+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

2024 IN DIE TRUSPIEËL DEEL 2 – BELANGRIKE BEGROTINGS- EN MAATSKAPLIKE ONTWIKKELINGS WAT ONS REGTE EN VRYHEDE BEÏNVLOED HET

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 21/05/2025

 

Inleiding

Dit is die tweede artikel in ’n reeks van twee wat breë maatskaplike ontwikkelings dek wat Suid-Afrikaners se grondwetlike regte en vryhede gedurende 2024 aansienlik beïnvloed het. Hierdie artikel fokus op begrotings- en maatskaplike ontwikkelings – insluitend misdaad en korrupsie – en hoe dit die stand van Suid-Afrikaners se grondwetlike regte en vryhede beïnvloed het. Die eerste artikel het die politieke en ekonomiese gebeure van 2024 ondersoek wat gevolge vir grondwetlike regte en vryhede ingehou het.


Suid-Afrika se Begrotingsontwikkelings

Die Suid-Afrikaanse regering werk op ’n fiskale jaar wat jaarliks op 1 April begin. Gevolglik strek die kalenderjaar Januarie tot Desember 2024 oor twee finansiële jare: 2023/2024 en 2024/2025.

In albei begrotings het onderwys die grootste toewysing van belastinginkomste ontvang – hoewel daar wyd kommer uitgespreek is oor die swak opbrengs op hierdie belegging. Ten spyte daarvan dat Suid-Afrika meer aan onderwys bestee as die meeste ander lande, is daar steeds ’n leeskrisis in openbare skole: 81% van graad 4-leerders kan nie met begrip lees nie.

Die tweede grootste uitgawe was vir maatskaplike ontwikkeling – wat nie verbasend is nie, aangesien sowat 45% van die bevolking in 2024 maatskaplike toelaes ontvang het. In dieselfde jaar was daar slegs ongeveer 7,4 miljoen belastingbetalers vir ’n bevolking van meer as 60 miljoen mense – ’n onvolhoubare situasie, veral aangesien staatskuld afbetaal moet word om rentekoste te verminder (sien die onderstaande).

Die derde grootste uitgawe was vir skulddienskoste. Tydens sy begrotingsrede op 21 Februarie 2024 het die Minister van Finansies beklemtoon dat meer as 20% van die regering se inkomste aan skuldterugbetalings bestee sal word – ’n toenemende las op die fiskus.

Maatskaplike Ontwikkelings

Volgens die Happiness Index, wat Suid-Afrikaners se sentiment op sosiale media meet, het geluksvlakke in 2024 gestyg tot 5,42 punte – ’n verbetering vanaf 5,19 in 2021. Die indeks meet geluk op ’n skaal van 0 (baie ongelukkig) tot 10 (baie gelukkig).

Tog het Suid-Afrika steeds gesukkel met hoë werkloosheid, ongelykheid en sosiale onrus. Die werkloosheidsyfer het in 2024 op ongeveer 32,8% gebly – ’n kommerwekkende vlak wat armoede en ongelykheid vererger. Aangesien meer ongelyke samelewings geneig is om hoër misdaadsyfers en laer sosiale vertroue te hê, dra werkloosheid ook by tot verhoogde sosiale spanning, insluitend xenofobiese sentimente. Soos oud-president FW de Klerk gesê het: “Vrede vaar nie goed waar armoede en gebrek heers nie.” Jeugwerkloosheid (ouderdom 15–34) bly ’n besondere bron van kommer, soos in diepte bespreek in die eerste artikel.

Xenofobie het in 2024 voortgeduur. Die jaar het begin met Operasie Dudula en die Patriotic Alliance-party wat Zimbabwiërs sonder geldige dokumente verhinder het om by die Beitbrug-grenspos in te kom. Video’s van hierdie optrede het wyd versprei, en xenofobiese hutsmerke het op sosiale media toegeneem. Anti-immigrante sentimente was prominent in politieke-retoriek in die aanloop tot die algemene verkiesing in Mei 2024, met verskeie partye wat immigrante blameer het vir die land se probleme. Die sterftes wat verband hou met besmette kos van spaza-winkels wat dikwels deur buitelanders besit word, het ook xenofobiese sentiment laat toeneem.

Misdaad en korrupsie het ‘n groot bekommernisse gebly regdeur 2024: Suid-Afrika het ’n misdaadindeks van 75,4 gehad op ’n skaal van 0 tot 100 (maar dié was aan die laer kant vanaf 2017). Belangrik is dat Suid-Afrika die hoogste misdaad-indeks in Afrika gehad het en gelys was as die vyfde gevaarlikste land ter wêreld. Die Wêreldbank het in 2023 beraam dat misdaad die land jaarliks sowat 10% van sy BBP kos.

Korrupsie het steeds ’n deurdringende probleem in Suid-Afrika gebly, met die Corruption Perceptions Index for 2024 wat aangedui het dat Suid-Afrika ’n geagte korrupsie telling van 41/100 behaal – waar 0 dui op uiterste korrupsie en 100 op ’n baie skoon regering.

Bron: Transparency International’s Corruption Perceptions Index 2024.

 

Wanadministrasie, bedrog, indiensnemingsonreëlmatighede, afpersing, omkopery en verkrygingskorrupsie – veral in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Wes-Kaap – was algemeen. Dié probleme het dienslewering ernstig beïnvloed. Natuurlik word die Staat se dienslewering direk daardeur beïnvloed, met die Wêreldbank wat in 2023 opgemerk het dat die Regering se kapasiteit vinnig verswak as gevolg van korrupsie, veral op plaaslike vlak.

Misdaad en korrupsie is beduidende kwessies wat ’n direkte impak het op die regte wat in die Grondwet vervat is – insluitend, maar nie beperk tot, die regte op lewe, vryheid en veiligheid van die persoon – en dit benadeel ook die broodnodige ekonomiese groei wat Suid-Afrika benodig.


Gevolgtrekking

Die bogenoemde beklemtoon Suid-Afrika se dringende behoefte om misdaad en korrupsie as prioriteit nommer een aan te spreek. Dit beklemtoon ook die noodsaaklikheid van omvattende onderwyshervormings om te verseker dat skole jongmense oplewer wat kwaliteit onderrig en vaardigheidsopleiding ontvang het, sodat hulle óf werk kan kry óf suksesvolle entrepreneurs kan word. Dit is duidelik dat om net geld na onderwys te gooi nie daartoe gelei het dat Suid-Afrika se kinders goed opgevoed en toegerus is om suksesvol die arbeidsmark te betree en hul plek in te neem as toekomstige belastingbetalers wat kan help om die menseregte en vryhede in die Grondwet te bevorder en ’n toekoms van vryheid en geregtigheid vir die volgende geslag te bou nie.

Die FW de Klerk Stigting glo dat ’n veelvlakkige benadering gevolg moet word in plaas daarvan om bloot die begroting wat belastingbetalers aan onderwys bestee, te verhoog. Een so ’n benadering behoort te wees om skoolhoofde behoorlik op te lei en te ondersteun, aangesien hulle verantwoordelik is vir die bestuur van skole en toesig oor onderwysers. Goed bestuurde skole, waar onderwysers verplig is om betyds klas toe te gaan en deeglik te onderrig, óf andersins die gevolge te dra – sal baie help om die probleme in die onderwyssektor aan te spreek. Ons het bekwame skoolhoofde nodig wat deel is van ’n gemeenskap van mede- skoolhoofde om dit te bewerkstellig.