+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

WETSONTWERP WAT EIENDOMSREGTE EN GRONDWETLIKE DEMOKRASIE BEDREIG, TER TAFEL GELÊ IN PARLEMENT

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 30/09/2025

 

Die MK-party se LP, Mzwanele Manyi, het ’n wetsontwerp in die Parlement ter tafel gelê wat daarop gemik is om alle grond te nasionaliseer en die staat die uitsluitlike bewaarder daarvan te maak. “Die wetsontwerp sal ook die Grondwet wysig om toe te laat dat alle soorte eiendom – nie net grond nie – sonder vergoeding onteien kan word en om die datum vir restitusie-eise uit te brei tot 6 April 1652, wat die heropening van grondeise tot die datum van Jan van Riebeeck se aankoms effektief moontlik maak,” verduidelik Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder  van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program.

Hierdie wetsontwerp is teenstrydig met Suid-Afrika se ‘demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid’: Dit ontneem die mense van hul mag en onderwerp hulle aan die grille van ‘n gewetenlose outoritêre staat,” sê Christo van der Rheede, die Stigting se uitvoerende direkteur.

Indien dit aanvaar word, sal hierdie wetsontwerp elke Suid-Afrikaner van hul grondwetlike reg om grond te besit, ontneem. Staatsbewaring sal burgers tot permanente huurders van die staat reduseer, afhanklik van die regering se guns en stemloos in besluite wat hul lewens vorm. Almal sal die mag verloor wat die Grondwet aan hulle gee, wat hulle kwesbaar laat vir staatsinmenging en politieke magsmisbruik,” stem Ellerbeck saam.

Dit het die potensiaal om Suid-Afrika se swaarverdiende grondwetlike demokrasie te vernietig en enige ekonomiese investering te ontmoedig indien dit wet word,” sluit van der Rheede af. “Dit is waarom die FW de Klerk Stigting ’n formele regsvertoë aan eerbare Manyi gemaak het toe hy die publiek vir die eerste keer van sy voorneme om hierdie wetsontwerp in te dien, in kennis gestel het, en die publiek aangemoedig het om dieselfde te doen.

Die wetsontwerp is na die Nasionale Vergadering(die eerste huis van die Parlement) se Regskomitee verwys. Die FW de Klerk Stigting sal voortgaan om die wetsontwerp se vordering te monitor en die publiek op hoogte te hou van geleenthede om betrokke te raak.