+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

 

Die Wetsontwerp sal “die reg op vryheid van handel, beroep en professie” ernstig ondermyn deur dit moeiliker te maak vir mense om in diens geneem te word – veral in die informele, klein- en mediumsakeonderneming-sektore.

Die Wetsontwerp brei die getal sakeondernemings wat lisensies het, aansienlik uit, deur dit van toepassing te maak op “alle mense en sakeondernemings wat in die Republiek sake doen”. Die huidige wetgewing oor lisensies (die Wet op Besighede, Wet 71 van 1991) vereis lisensies slegs van sakeondernemings wat by die verkoop of verskaffing van vleis of bederfbare voedsel betrokke is; by die verskaffing van gesondheidsdienste of vermaak; en die smous van etes en bederfbare voedsel.

Die Wetsontwerp bied geen logiese administratiewe rede vir die uitbreiding van lisensies na alle sakeondernemings nie. Die Wetsontwerp sal nie die ontwikkeling van Suid-Afrika se ekonomie bevorder nie aangesien dit verder sal bydra tot die las op die privaatsektor betreffende regulering. Dit is onversoenbaar met die regering se eie Nasionale Ontwikkelingsplan wat ’n beroep doen om “’n vermindering in die koste van die regulering van nakoming, veral wat klein- en mediumsakeondernemings betref”.

Dit sal ook heel moontlik ekonomiese ontwikkeling verder belemmer deur regulering deur die regering na die informele sektor uit te brei. Die informele sektor het tussen 2.1 miljoen en 3.9 miljoen mense in diens en dra ongeveer 10% by tot die nasionale inkomste. Teoreties gesproke sal almal wat ’n lewe probeer maak deur goedere in plakkerskampe of langs die straat te verkoop, in besit van ’n lisensie moet wees. Dít sal die armste lede van die samelewing se vermoë om ’n lewe te maak, ondermyn, en sal – in praktyk – hul reg om ingevolge artikel 22 van die Grondwet hul bedryf, beroep en professie vrylik te kies, ondermyn.

Alhoewel artikel 22 verklaar dat “die beoefening van ’n bedryf, beroep of professie deur die reg gereguleer kan word”, moet die uitwerking van sodanige regulering die reg wat in artikel 22 uiteengesit word, bevorder en nie ondermyn nie. Die uitwerking van die Wetsontwerp sal in die praktyk beteken dat baie Suid-Afrikaners die voordele van artikel 22 ontneem word – veral diegene wat by die informele ekonomie betrokke is. Dit sal ook die regte van mense wat deur klein- en mediumsakeondernemings in diens geneem sou word, raak indien die onnodige las betreffende regulering wat deur die staat ingestel is, nie ’n faktor was nie.

Die Wetsontwerp sal nie “’n omgewing wat bydra tot die bevordering van nakoming en volhoubaarheid van sakeondernemings aanmoedig” nie. Die bepalings is so vaag, en die magte wat aan die lisensiëringsowerhede en -inspekteurs verleen word, so ongedefinieerd en wyd, dat dit onvermydelik tot wanadministrasie en korrupsie sal lei.

Anders as die geval met die Wet op Besighede, Wet 71 van 1991, wat vereis dat lisensiëringsowerhede lisensies aan inskiklike sakeondernemings uitreik, bepaal die Wetsontwerp dat lisensiëringsowerhede ’n lisensie “kan” uitreik op “sodanige voorwaardes wat die lisensiëringsowerheid nodig af”. ’n Lisensiëringsowerheid kan ook “sekere persone of aansoeke om lisensies vrystel van die aansoek van een of meer bepalings in die Wet”. Geen maatstawwe vir vrystelling word uiteengesit nie, behalwe vir die bestaan van “gronde wat redelik en regverdigbaar is.” Dit skep weer eens die moontlikheid van misbruik en korrupsie deur die staat.

Die Wetsontwerp verleen magte aan lisensiëringsowerhede en relatief jong beamptes wat as inspekteurs mag optree wat administratief vaag en grondwetlik onaanvaarbaar is. So mag ’n lisensiëringsowerheid byvoorbeeld ongedefinieerde boetes en strawwe oplê. Inspekteurs sal die vermoë hê om “enige perseel te sluit hangende verdere ondersoek” en “enige goedere te verwyder en daarop beslag te lê” – duidelik ’n oorskryding van die grondwetlike bepaling dat “geen wet arbitrêre vervreemding van eiendom mag toelaat nie.” Inspekteurs wat op goedere beslag lê hoef nie eers kwitansies uit te reik nie aangesien die Wetsontwerp sê dat hulle dit “kan” en nie “moet” doen nie.

Die lisensiëringsowerheid het ook algehele diskresie om die lisensievoorwaardes na goeddunke te wysig op grond van sy arbitrêre interpretasie van “die nasionale belang”. Dít kan ’n onmoontlike las en onsekerheid vir sakeondernemings skep wat behoorlik gelisensieer is.

Die meeste munisipaliteite is nie in staat om hul huidige verantwoordelikhede doeltreffend aan te pak nie – wat nog te sê van die enorme bykomende las wat op hulle afgedwing sal word ingevolge die Wetsontwerp. Stilswyende erkenning van hierdie onvermoë blyk is duidelik in ’n bepaling van die Wetsontwerp dat indien die lisensiëringsowerheid nie ’n lisensie waarvoor aansoek gedoen is, binne 30 dae uitreik nie, “sodanige lisensie geag uitgereik te wees.” Dit maak ’n bespotting van die belangrikste doel van die Wetsontwerp en baan die weg vir administratiewe chaos – aangesien daar steeds van sakeondernemings vereis sal word om lisensies te kan wys – onderhewig aan ernstige boetes.

Die Wetsontwerp bevorder nie die doelwitte waarna dit klaarblyklik te streef nie. Wat is dan die ware doelwit? Afgesien van die uitbreiding van burokratiese beheer oor die privaatsektor, kan dit ook wees om buitelandse burgers wat sake sonder lisensies doen, te beheer. Alhoewel regerings die reg het om buitelandse burgers in hul gebied te reguleer, is dit ’n aangeleentheid wat versigtig aangepak moet word. Daar is moontlik miljoene buitelanders wat onwettig in Suid-Afrika woon en werk, en baie van hulle is betrokke by informele sakeondernemings. Voor die regering sodanige mense van hul lewensbestaan ontneem, moet hy verseker dat hy alle gepaste stappe gedoen het om vir hulle te sorg voordat hulle na hul lande van herkoms gedeporteer word.

Alle wetgewing moet aan die Grondwet voldoen en spesifiek aan die kernwaardes van menswaardigheid, die behaling van gelykheid en vryhede. Die bevordering van vryheid vereis van die regering om te verseker dat die regulering van regmatige aktiwiteite beperk word tot die minimum wat vir goeie administrasie in die openbare belang vereis word.

Die burokrate wat konsepwetgewing opstel moet onthou dat die regering en openbare administrasie die dienaars – en nie die meesters – van die mense is nie. In ’n samelewing wat toegewyd is tot die bevordering van gelykheid moet daar versigtig omgegaan word ten einde nie skade te berokken aan die belange van minderbevoorregtes in ons samelewing wat by die informele ekonomie betrokke is en daarop aangewese is nie. Daar moet ook onthou word dat die Grondwet en Suid-Afrika se internasionale verdragooreenkomste beskerming bied aan alle mense wat in Suid-Afrika woon – met inbegrip van buitelanders wat moontlik onwettig hier woon en werk.

Deur Dave Steward, uitvoerende direkteur, FW de Klerk Stigting


Leave a Reply

Your email address will not be published.