WES-KAAP SE OPROEP: WAAROM'N MAAND VERLENGING BELANGERIK IS VIR ONDERWYS

Uitgereik deur die FW de Klerk-stigting op o7/02/2024

 

Die Nasionale Raad van Provinsies (“NRV”), die Parlement se tweede huis het gister oggend (6 Februarie 2024) vergader om te besluit of dit die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement (“WKPP”) se versoek om verlenging van die kommentaartydperk  en openbare verhore wat verband hou met die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (“die BELA Wetsontwerp”), sal toe staan.

As redes vir sy versoek is die WKPP van mening dat die BELA Wetsontwerp “op die oog af verreikende implikasies vir die inwoners van die Wes-Kaap inhou, en waarskynlik aansienlike openbare belangstelling sal wek … gegewe die kompleksiteit, aard, omvang en moontlike impak van die wetsontwerp, sal dit heel waarskynlik van die komitee vereis om openbare verhore wyd en syd oor die provinsie uit te brei.” Die WKPP het ook gesê dat hy reeds versoeke ontvang het van organisasies wat voorleggings deur deskundiges oor die Wetsontwerp wil doen.

Ten spyte van die WKPP se versoek om die proses met ‘n maand te verleng sodat openbare betrokkenheid voldoende geakkommodeer word, het die NRVP besluit om dit slegs met twee (2) weke te verleng.

Die FW de Klerk Stigting se Uitvoerende Direkteur, Christo van der Rheede, is van mening dat die WKPP se pleidooi vir ‘n verlenging, voortspruit vanweë ‘n ernstige kommer dat dit nie in staat sal wees om sy grondwetlike verpligting om betekenisvolle openbare deelname te fasiliteer (soos vereis deur artikel 118 van die Grondwet), na te kom nie. “Die Stigting deel hierdie bekommernis, want betekenisvolle openbare deelname is belangrik om beter wette in werking te stel, aangesien dit mense toelaat om inspraak te hê in die skryf van wette wat aan voldoen moet word. Ons Grondwetlike Hof het al talle kere bevind dat betekenisvolle publieke deelname vereis dat ’n redelike geleentheid aan die publiek gegee moet word om behoorlik oor ‘n bepaalde aangeleentheid ingelig te word en om voldoende inspraak te lewer,” sê van der Rheede. “Die hof het ook onlangs herhaal dat om tyd te bespaar op sigself nie onvoldoende geleenthede vir openbare betrokkenheid regverdig nie.”

Die voorgestelde wysigings in die BELA Wetsontwerp loop die risiko om die outonomie van Skoolbeheerliggame (SBL’e) te erodeer, en daardeur taalregte te ondermyn. Daarbenewens wek die Wetsontwerp se diskriminerende bepalings teen ongedokumenteerde leerders beduidende etiese en praktiese bekommernisse, wat lynreg indruis teen die reg op toegang tot basiese onderwys.