‘n Belangrike tema van hierdie dag is ons begrip van die waarde van kulturele diversiteit en om op grond van hierdie begrip te leer om beter saam te leef. In hierdie opsig word kulturele diversiteit en die belangrikheid daarvan in ‘n aantal internasionale regsinstrumente erken:
- Die Universele Verklaring Betreffende Kulturele Diversiteit, aanvaar deur UNESCO in 2001, is ‘n kragtige regsinstrument wat nie net kulturele verskeidenheid as ‘n “gemeenskaplike erfenis van die mensdom” erken nie, maar wat ook dié beskerming as ‘n uiters etiese imperatief beskou,wat onlosmaaklik gekoppel is aan die respek vir menswaardigheid;
- Die UNESCO Konvensie vir die Beskerming en Bevordering van die Verskeidenheid van Kulturele van 2005 erken die besonderse natuur van kulturele goedere, dienste en aktiwiteite as voertuie van identiteit, waardes en betekenis en ook dat, terwyl die kulturele goedere, dienste en aktiwiteite belangrike ekonomiese waarde het, en dit nie net kommoditeite of verbruikersgoedere is wat as handelsvoorwerpe beskou moet word nie; en
- Kulturele diversiteit word ook bevorder deur die Verklaring van Montreal van 2007.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet neem ten volle kennis van die uiteenlopende aard van ons samelewing en verklaar dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon – verenig in ons diversiteit. Sterk grondwetlike beskerming word deur die Handves van Regte verleen aan alle Suid-Afrikaners se taalregte (artikel 6 en 29), kultuurregte (artikel 30) en die reg om aan kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe te behoort (artikel 31).
Deur middel van hierdie en ander bepalings maak ons Grondwet voorsiening vir die nodige raamwerk van respek vir verskillende kulturele belange in Suid-Afrika, asook vir hul beskerming en bevordering. Dit bemagtig ons as Suid-Afrikaners om ‘n gemeenskap van individue te bou wat toegewyd is aan diversiteit en die stryd teen kulturele polarisasie en negatiewe kulturele stereotipes.
Kan ons egter as Suid-Afrikaners – op hierdie dag – werklik sê dat ons ‘n wedersydse respek en begrip eerbiedig en koester vir mekaar se verskille en verskillende kulture?
- Hoekom het dit so lank geneem om die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale en sy regulasies in werking te stel sodat behoorlike uitvoering gegee kan word aan die bepalings van artikel 6 betreffende amptelike taalgebruik deur die Regering?
- Waarom voldoen die Wet nog steeds nie aan van die taalvereistes in artikel 6 van die Grondwet nie?
- Waarom is daar nog so baie skadelike en aanstootlike diskoers op grond van ras – nie net op moderne sosiale media platforms nie – maar ook in die openbare en op politieke gebied in Suid-Afrika?
- Waarom is daar nog so min waardering en respek onder Suid-Afrikaners vir die rykdom van die kulturele, taalkundige en historiese erfenis van ander gemeenskappe?
- Hoekom het die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe so min gedoen om sy grondwetlike mandaat – om respek vir die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe te bevorder – uit te voer?
- Hoekom het die Pan Suid-AfrikaanseTaalraad (PANSAT) sy grondwetlike plig versuim om toestande vir die ontwikkeling en gebruik van al ons amptelike tale te bevorder en te ontwikkel, en respek te bevorder vir ander tale wat in Suid-Afrika gebruik word?
Die skuld vir hierdie ondoeltreffendheid van veral hierdie twee organisasies (die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en PANSAT) kan nie net op dié twee instellings geplaas word nie. Groter druk moet toegepas word op die Regering en die Parlement omdat beide die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en PANSAT aan die Nasionale Vergadering verantwoordelik moet wees. Kan die versuim om enige daadwerklike stappe te doen om hul doeltreffendheid te verbeter dui op ’n gebrek aan ernstige politieke toewyding om respek vir kulturele en taaldiversiteit te bevorder, asook die handhawing van goeie verhoudinge tussen ons verskillende gemeenskappe?
Daar is dikwels wrywing wanneer verskillende kulture saamwoon in dieselfde geografiese gebied. As Suid-Afrikaners moet ons ons daarvan weerhou om uitsprake in die openbaar te maak dat een van ons bevolkingsgroepe se kultuur, tradisies of erfenis van meer waarde is as die ander. Ons Grondwet verbied dit. As ‘n nasie moet ons nie in die openbaar menings deel dat sommige kulture en mense in Suid-Afrika minder as ander werd is nie. Die uitwerking van sulke uitlatings doen afbreek aan die sosio-kulturele samespel van ons land en die beginsel van gelykheid waarop dit gegrond is.
Daar is verskeie maniere om verskillende kulture op ons eie te verken. Besoek ‘n kunsuitstalling of ‘n museum wat aan kulture toegewy is. Nooi familie of mense van ‘n ander kultuur of geloof wat in jou buurt woon om ‘n maaltyd saam jou te geniet en ruil jul menings uit oor die lewe. Neem ’n rolprent uit of lees ‘n boek wat oor ‘n ander land of geloof handel. Nooi mense uit ‘n ander kultuur om aan jou gebruike deel te neem. Lees meer oor die groot denkers van ander kulture. Versprei jou eie kultuur oor die wêreld en leer oor ander kulture deur die gebruik van sosiale en elektroniese media. Bou jou kennis op oor die Grondwet en ander bronne wat tot jou beskikking is en eis jou grondwetlike regte op ten opsigte van taal, kultuur en erfenis.
Indien daar ‘n wedersydse respek getoon kan word vir verskillende kulture, kan ‘n gesonde respek vir kulturele diversiteit en menslike kreatiwiteit bevorder en geïmplementeer word – in ooreenstemming met ons kultureel progressiewe Grondwet.
Deur Adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting
WÊRELDDAG VIR KULTURELE DIVERSITEIT VIR DIALOOG EN ONTWIKKELING