Jansen het gesê dat “’n belangrike oplossing vir die langtermyn oplossing van die onderwyskrisis” sal wees “om elke leerling en onderwyser van die eerste dag van skool af in Engels te onderrig eerder as om by te dra tot die las van swak moedertaalonderrig tydens die grondslagfase en die trauma van die oorgang na Engels op ‘n latere stadium”.

Jansen het sedertien aangedring daarop dat sy “versigtige argument op onderrigtaal verdraai is om ‘n mediastorm te ontketen”.

Nieteenstaande kan dit behulpsaam wees om deelnemers aan die debat te herinner aan wat die Grondwet werklik bepaal betreffende taal en onderrig.

Artikel 6(1) van die grondliggende bepalings van die Grondwet verskans Engels – saam met 10 ander tale – as een van die amptelike tale van die Republiek. Niemand betwis dat dit ongrondwetlik sou wees vir enige skool (of ander akademiese instansie) om eksklusiwiteit te bewerkstellig op grond van ras nie, en insgelyks, sou dit onbillik wees op grond van taal nie. Dit word verder ook nie betwis dat Engels die lingua franca is nie en dat, soos Jansen voorstel, die taal van versoening behoort te wees nie.

Prof Jansen se duidelike voorstel dat ‘n langtermyn oplossing tot die onderwyskrisis eksklusiewe Engelse onderwys sal wees – vanaf die grondslagfase – strook egter nie met die Grondwet se voorsiening vir veeltaligheid en die ruimte wat dit duidelik vir onderwys in enige van ons amptelike tale skep nie – ook in enkelmediumonderwysinstellings.

Dit strook ook nie met die UVS se eie taalbeleid nie – wat gebasseer is op die erkenning van die Grondwet se taalbepalings.

Artikel 29(2) van die Handves van Regte verklaar dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van hul keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Gevolglik moet die staat alle redelike alternatiewe met inbegrip van enkelmediuminstellings oorweeg, met inagneming van billikheid, doenlikheid en die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede reg te stel.

Artikel 29(3)(a) van die Handves van Regte is ook duidelik: elkeen het die reg om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou mits dit nie op grond van ras diskrimineer nie.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 – wat van toepassing is op alle skoolonderrig in die Republiek – bepaal in duidelike terme [artikel 6(2)] dat die beheerliggame van openbare skole die taalbeleid van sulke skole bepaal, onderhewig aan die Grondwet, die Skolewet en enige ander toepaslike provinsiale wetgewing. Die caveat op skoolbeheerliggame se prerogatief om aldus taalbeleid te bepaal, is te vinde in artikel 6(3) wat bepaal dat geen vorm van rassediskriminasie beoefen mag word wanneer ‘n taalbeleid volgens hierdie artikel (van die Wet) vasgestel word nie.

Waar ‘n skoolbeheerliggaam dus sy pligte en bevoegdhede op wetlike wyse nakom in verband met die bepaling van ‘n taalbeleid en indien dit strook met die Grondwet, kan beswaarlik gesê word dat dit op onbillike diskriminasie neerkom.

Swak moedertaal onderrig is wel ‘n probleem, maar dit is heel dikwels nie die geval in Afrikaanse skole nie. Daar is ook daarop gewys – redelik oortuigend – dat moedertaalonderrig gedurende die eerste ses tot sewe jaar van skool tot beter onderwysuitkomste lei as onderrig in ‘n tweede taal – selfs ten opsigte van die aanleer van die tweede taal (Engels) vir gebruik in die hoërskool.

Die swak toestand van moedertaalonderwys kan ook aangespreek word deur gevolg te gee aan die bepalings van artikel 6(2) van die Grondwet, wat as volg bepaal: “gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense”, die staat “praktiese en daadwerklike maatreëls moet tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder”. Moedertaalonderrig in hierdie tale en die uitbou van broodnodige infrastruktuur in daardie verband sal neerkom op een vorm van daadwerklike en praktiese maatreëls om daardie tale se status en gebruik daarvan te verhoog.

Ook, die wortel van die onderwyskrisis is nie hoofsaaklik die taal van onderwys nie, maar eerder die mislukking van beleid. As ons veronderstel dat slegs Engels as onderrigmedium gebruik sou word in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, sal dit op die langtermyn steeds nie die onderwyskrisis te hulp snel nie. Veral as leerders halfpad deur die akademiese jaar sit sonder handboeke, sonder rekenaars of elektrisiteit, sonder basiese sanitêre geriewe, sonder ordentlike klaskamers, en met onderwysers wat nie basiese lees of skryfvaardighede het nie – of dit nou in Engels of enige ander taal is.

In dié verband is prof Jansen reg: ‘n ras- en klasgebasseerde stelsel van uitsluiting is nadelig vir arm, swart studente. Dit (asook ander problem in die Suid-Afrikaanse onderwysbestel soos hierbo genoem) verwys na die mislukking van onderwysbeleid en het niks te doen met taal in ‘n grondwetlike bestel waarin alle Suid-Afrikaners gelyke taalregte geniet nie.

Ons kan nie aanvaar dat dit prof Jansen se bedoeling was om standpunte te opper wat so afwykend is teenoor die Grondwet, sy eie universiteitsbeleid asook sy eie prysenswaardige rekord van die bevordering van versoening en positiewe verhoudinge tussen ons gemeenskappe nie. In die lig van die tragiese gebeure van 1976 het hy sekerlik nie bedoel dat Suid-Afrikaanse skoolkinders weereens gedwing moet word om te studeer in ‘n taal wat hulle nie as hul eie reken nie?

Gevolglik moet ons sy verduideliking aanvaar dat hy “verkeerdelik aangehaal is” en dat “‘n mediastorm” te blameer is.

Adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting


Leave a Reply

Your email address will not be published.