Vryheid beteken ongetwyfeld dat ons erkenning moet verleen aan die ongeregtighede van die verlede, en om diegene wat ons gehelp het om geregtigheid en vryheid in Suid-Afrika te bewerkstellig, te vereer. Dit beteken dat ons nie net diegene wat ons land opgebou en ontwikkel het - en dit steeds doen - moet respekteer nie, maar dat ons self daardie mense moet wees, wat glo dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon, verenig in ons diversiteit.
Vryheid in ons grondwetlike demokrasie beteken dat elke Suid-Afrikaner geregtig is op die regte wat in die Grondwet verskans word. Dit beteken ook dat almal dieselfde grondliggende beginsels van ons hoogste reg moet respekteer en volg: respek vir menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede; nie-rassigheid en nie-seksisme; die oppergesag van die Grondwet en die reg; en universele stemreg, ten einde verantwoordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker. Voormalige president Nelson Mandela het dit die beste verwoord toe hy gesê het “…om vry te wees beteken nie net dat ’n mens jou kettings afgooi nie, maar om só te lewe dat dit die vryheid van ander respekteer en bevorder “.
Vryheid vereis van alle Suid-Afrikaners om aktiewe en verantwoordelike burgers te wees. In ons grondwetlike demokrasie - ’n land wat slegs deur sy grondwetlike waardes, beginsels en regte beperk word - is dit ’n reg, plig en verantwoordelikheid om te stem en verteenwoordigers te verkies. In beginsel is dit belangrik dat diegene wat die mense verteenwoordig, werklik die grondwetlike waardes, beginsels en regte namens elke Suid- Afrikaner beskerm. Dit is nie net ’n reg nie, maar ook ’n plig om deel te neem aan die verkiesing van diegene wat oor Suid-Afrika moet regeer. Bowendien is dit ook ’n verantwoordelikheid - nie net om te verseker dat mense wat integriteit en die belange van alle Suid-Afrikaners op die hart het, verkies word nie, maar ook om te verseker dat daardie leiers wat verkies word, steeds verantwoordelik gehou word, hul optrede deursigtig is en dat hulle ’n responsiewe ingesteldheid het met betrekking tot alles wat hulle doen.
Dit is nie genoeg om aan verkiesings deel te neem en dan tot met die volgende verkiesing terug te sit en ten gunste van verkose verteenwoordigers afstand te doen van ons verantwoordelikheid as burgers nie. Ons moet voortdurend ‘n hoër standaard aan ons verteenwoordigers en regering stel en meer van hulle verwag. Regter Sachs, namens die Konstitusionele Hof in die Doctors for Life-saak, het gesê dat ’n voortdurende en aktiewe betrokkenheid deur die publiek ’n grondwetlike plig is en nie net “’n geval van wetgewende etiket of goeie regeringsmaniere nie”. Gevolglik is grondwetlike waardes soos verantwoordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid van nature alomteenwoordig en tydloos – ongeag die feit dat verkiesings periodies plaasvind: “They are constants of our democracy, to be ceaselessly asserted in relation to ongoing legislative and other activities of government. Thus it would be a travesty of our Constitution to treat democracy as going into a deep sleep after elections, only to be kissed back to short spells of life every five years”.
Ons moet aandring op verantwoordingspligtigheid, deursigtigheid en ’n responsiewe ingesteldheid van diegene wat ons verteenwoordig - en uiteindelik van die regering wat namens al die mense behoort te regeer. Benjamin Franklin se stelling dat “…diegene wat wesenlike vryheid kan opgee ten einde ’n bietjie tydelike veiligheid te bekom, nie vryheid óf veiligheid verdien nie” kan dalk effens hardvogtig wees, maar dit benadruk die belangrikheid daarvan om nie vryheid as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar dit voortdurend te verdien - veral wanneer daardie vryhede, soos die reg op gelykheid, toegang tot inligting, onderwys en gesondheidsdienste, nie deur die regering verwesenlik word nie.
Wees ’n aktiewe burger - of dit nou in jou gemeenskap, provinsie of op nasionale vlak is. Maak gebruik van jou grondwetlike regte - as ’n individu, maar ook as ’n gemeenskap. Dien voorleggings in en maak aanbiedings aan jou plaaslike munisipaliteit, provinsiale wetgewer of nasionale Parlement, of dit nou geskrewe of mondelings is. Ondersteun daardie individue en organisasies wat aandring dat die regering sy optrede verduidelik en sy wette regverdig, maar moenie net van ander verwag om jou stem te wees en namens jou te praat nie. Lug jou bekommernisse, mening en konstruktiewe kritiek in jou gemeenskap, in die media en in die Parlement, provinsiale wetgewer en plaaslike regering. Neem verantwoordelikheid vir diegene vir wie jy gestem het, en dring aan op verantwoordbaarheid van diegene wat in ons verskeie regeringsfere regeer.
Ons Grondwet is die basis vir ’n demokratiese en oop samelewing waar die regering gebaseer is op die wil van die mense en waar elke burger gelyke beskerming deur die reg geniet. Om die potensiaal te ontsluit en ’n lewensgehalte te verseker vir almal wat in Suid- Afrika woon, moet ons onsself voortdurend herinner aan wat dit beteken om vry te wees en aan wat dit beteken om ’n keuse te hê ten opsigte van hoe daar oor ons regeer word. Op die eerste herdenking van Suid-Afrika se nie-rassige verkiesings op 27 April 1995, het voormalige president Mandela gesê: “Op hierdie dag het julle, die mense, jul toekoms in jul eie hande geneem. Julle het besluit dat niks julle daarvan sou weerhou om jul hard verdiende reg om ’n regering van jul keuse te verkies, uit te oefen nie. Jul geduld, jul dissipline, jul doelgerigtheid het ’n legende regoor die wêreld geword…”.
Op hierdie Vryheidsdag herdenk ons weereens die hard verdiende reg om ’n regering van ons keuse te verkies. Maar ons herdenk ook die vryheid om niks minder as verantwoordigingspligtigheid, deursigtigheid en ’n responsiewe ingesteldheid van ons verteenwoordigers te verwag nie - en dat indien hierdie eienskappe kortkom, dit ons vry staan om ander verteenwoordigers te verkies wat aan ons geregverdigde verwagtinge sal voldoen.
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: Nebojsa Mladjenovic / Foter.com / CC BY-NC-ND