Nog nooit voorheen het ons ‘n voormalige of uitgeskopte President op nasionale vlak sien deelneem soos wat Zuma doen nie. Die bywoning van vergaderings van amptelike strukture, die hou van private (en nie meer geheime) vergaderings met voormalige bondgenote, en die toespreek van popenbare vergaderings wat deur die ANC saamgeroep is, is nie die normale aktiwiteite van ‘n afgetrede staatshoof nie. As Zuma se aktiwiteite net toegeskryf word aan “hulp aan die ANC se voorverkiesingsveldtog”, help hy nie – deur die bestaan van die een ding wat die ANC se teenstanders ferm teen hom hou, staatskaping (en die gepaardgaande korrupsie).
Die meer kommerwekkende feit is dat Zuma se aktiwiteite en uitlatings ‘n ander doel kan hê, en dit is om mense op te sweep teen die man wat sy veldtog om ANC-president te wees op skoon regeringsbestuur en die uitwissing van staatskaping gebou het – President Cyril Ramaphosa. Zuma daag President Ramaphosa openlik uit deur die bestaan van die grootste en mees skadelike nalatenskap van sy nege jaar in die amp te ontken. Dit skep voorts ook verdere verdeling in die party, aangesien Zuma waarskynlik in die openbaar sê wat ander Zuma-goedgesindes slegs in privaat durf sê. Die feit dat die oorweldigende meerderheid ANC-parlementslede vir Zuma gestem het om sy volle salaris as pensioen te ontvang, sowel as voortgesette toelaes vir sy verskeie vroue, moes selfs verdere waagmoed by die voormalige President geskep het.
Dit alles stuur af op ‘n openbare konfrontasie – wat nie Ramaphosa se toedoen is nie, en heel waarskynlik nie in die belang van nasionale stabiliteit nie. Hierdie politieke skuiwe maak dit soveel meer belangrik vir President Ramaphosa om dringend die regte persoon aan te stel om aan die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag te wees, vir die Zondo-kommissie om dringend en op geloofwaardige wyse die bewerings van staatskaping ten grondslag te lê, en vir die Nugent-kommissie oor SAID om so gou as moontlik kriminele aktiwiteite in sy geledere te identifiseer, te isoleer en te straf.
Ons het reeds gesê: gee President Ramaphosa ‘n kans, maar hou hom dop. Hierdie keer sê ons, wees versigtig, mnr President!
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
13 September 2018