Die Stigting se voorlegging tref duidelike onderskeid tussen die oortreding van haatsmisdade en haatspraak, met die fokus op die grondwetlikheid van die oortreding van haatspraak. Ons stel voor dat die oortreding van haatspraak heeltemal van die trefwydte van die Wetsontwerp uitgesluit word. Die vae en verreikende oortreding van haatspraak val nie in die grondwetlike raamwerk van haatspraak kragtens die Grondwet nie. Dit kan dus nie as ‘n redelike beperking beskou word op die reg van vryheid tot uitdrukking nie, waarvoor hard geveg is. Vryheid van uitdrukking moet verdedig word in ‘n robuuste demokrasie, ten einde die land te vorm wat ons hoop om aan toekomstige nageslagte agter te laat. Gegewe die gebrek aan statutêre verwere in die Wetsontwerp, is die Stigting bekommerd dat die oortreding van haatspraak ernstig misbruik sal word, en dat dit op sy beurt demokratiese debatvoering in ons samelewing onderdruk. Die kollektiewe uitwerking is dat alhoewel haatspraak afskuwelik is, vryheid van uitdrukking nie opgeoffer moet word op die altaar van opportunisme en populisme nie.
Die Stigting het voorts ook kortliks die oortreding van haatsmisdade oorweeg. Daar is ‘n behoefte aan behoorlike verslagdoening en data-insameling betreffende haatsmisdade, en dit sal deur hierdie Wetsontwerp moontlik gemaak word. Dit is egter noodsaaklik dat die oortreding van haatsmisdade duidelik en in ooreenstemming met internasionale benaderings gedefinieer word. Indien geen onderliggende kriminele oortreding kragtens ons strafreg gepleeg is nie, dan kan geen haatsmisdaad bestaan nie.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting