Hy het gesê dat Afrikaans ook die taal is “waarin ons redeneer, debatteer en onderhandel” en dat dit hierdie kenmerk is waaraan hy in sy toespraak aandag wou skenk.

De Klerk het gesê dat byna alle kundige kommentators 30 jaar gelede voorspel het dat die toenemende konfrontasie in Suid-Afrika tussen die Nasionale Party-regering en die stemlose swart, bruin en Indiese meerderheid uiteindelik ‘n verwoestende rasse-oorlog tot gevolg sou hê. In 1985, in sy sel in die Pollsmoor-gevangenis, het Nelson Mandela tot die gevolgtrekking gekom dat “indien ons nie binnekort met dialoog begin nie, beide partye binnekort in ‘n nag van onderdrukking, geweld en oorlog gedompel [sou] word.”

Die Suid-Afrikaanse regering het reeds tot ‘n soortgelyke gevolgtrekking gekom. Die SAW het in die vroeë 80s daarop gewys dat daar, op die lang termyn, geen militêre oplossing vir die toenemende konflik in die land kon wees nie.

Teen die tyd dat De Klerk in September 1989 President geword het, was die Nasionale Party reeds tot fundamentele transformasie verbind. “Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat die beste vooruitsig – en inderdaad die enigste een – vir ‘n positiewe toekoms vir ons en al ons mense van Suid-Afrika, geleë was in die onderhandeling van ‘n sterk grondwet wat die regte van alle Suid-Afrikaners sou beskerm.”

Op 2 Februarie 1990 het De Klerk die aankondigings gemaak wat al die oorblywende struikelblokke met betrekking tot die aanvang van die onderhandelings uit die weg geruim het. Die daaropvolgende proses was een van die suksesvolste demonstrasies van die mag van debat, dialoog en onderhandelings in die onlangse geskiedenis. Dit het bewys dat konflik en irrasionaliteit oorkom kan word en nie noodwendig bepalend vir die menslike lot is nie.

23 politieke partye met wyd uiteenloopende filosofieë en geskiedkundige agtergronde het bymekaar gekom om ‘n nuwe grondwet vir Suid-Afrika te beding. “Dit was nooit maklik nie. Daar was deurentyd elemente aan alle kante wat geweld eerder as onderhandelings verkies het.”

In Junie 1992 het die ANC die onderhandelings laat vaar en besluit om eerder die sogenaamde ‘Leipzig Option’ na te streef. Die ANC het geredeneer dat indien hulle miljoene mense in ‘n proses van rollende massa-aksie kon mobiliseer, die Suid-Afrikaanse regering in duie sou stort – nes die Oos-Duitse regering slegs drie jaar vantevore kort na soortgelyke massabetogings ineengestort het.

Gelukkig het Nelson Mandela die ANC terug gelei na die onderhandelingstafel nadat die Bisho-voorval in September 1992 die land op die rand van ‘n katastrofe gelaat het. Teen Desember 1993 is ‘n ooreenkoms bereik oor ‘n tussentydse grondwet ingevolge waarvan die nasionale verkiesings op 27 April 1994 sou plaasvind.

Twee jaar later, na verdere intensiewe onderhandelings, is die finale Grondwet aanvaar. De Klerk het gesê dat dit berus het op die waardes van menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede; nie-rassigheid en nie-seksisme; en die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg. Dit maak ook voorsiening vir “’n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ‘n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker”.

Volgens De Klerk waarborg hierdie grondwetlike waardes ons vryheid – “en dit is die resep vir ons toekomstige sukses; dit is die beste hoop op geregtigheid, sekuriteit en voorspoed vir miljoene Suid-Afrikaners.” Hy het gesê dat elke burger dit sy of haar eie behoort te maak en dat dit ten alle koste verdedig behoort te word wanneer dit bedreig word.

Tog is daar sommige mense wat nou sê dat hierdie grondwetlike toegewings hul doel gedien het tydens die sogenaamde “eerste fase van ons politieke oorgang”. Dit is kwansuis nie meer noodsaaklik of voldoende gedurende die tweede fase van die radikale hervorming van ons samelewing en ekonomie nie.

Volgens De Klerk het sommige mense, vervul met passie en bitterheid, verklaar dat die tyd vir versoening tussen swart en wit Suid-Afrikaners verby is en dat die tyd aangebreek het vir die maatskaplike en ekonomiese stryd. Dié mense het hul rug gedraai op diskoers, debat en onderhandeling en het eerder besluit op konfrontasie en konflik.

De Klerk het gesê dat daar egter steeds baie dringende vrae geopper word wat die onderwerpe van ‘n nuwe nasionale dialoog is:

Hierdie – en baie ander – vrae behoort die onderwerp van ‘n intense nasionale dialoog te wees.

De Klerk het gesê dat hy gedink het dat sodanige opbouende diskoers in die Parlement sou plaasvind. “Dit is egter nou duidelik dat ons Parlement nie meer ‘n neutrale gebied vir rasionele en konstruktiewe debatvoering is nie.” Ongelukkig is die verteenwoordigers nie meer verantwoordbaar teenoor die burgers wat hulle verkies het nie – maar aan hul onderskeie politieke base. Die Speaker kan ook nie neutraal wees terwyl sy as Voorsitter van die regerende party dien nie.

De Klerk het afgesluit deur te sê dat “[o]ns – die burgers – weereens die inisiatief [moet] neem en ‘n dinamiese nasionale debat [moet] aanvoor oor hierdie en baie ander belangrike vrae wat die toekoms van ons land sal beslis. En terwyl ons dit doen moet ons hard en duidelik “nee” sê aan almal – van watter kant ookal – wat ons wil terug lei na konfrontasie en konflik.”

Foto: Woordfees


Leave a Reply

Your email address will not be published.