Terwyl die instelling van wetgewing soos die Wetsontwerp ‘n welkome ontwikkeling is, is dit nie genoeg om wanadministrasie in die staatsdiens hok te slaan nie. Dit is belangrik dat liggame soos die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke) oor die vaardighede en kundigheid beskik om individue wat hul aan wanadministrasie skuldig maak, aan die pen te laat ry. Die eenparige aanvaarding van die Wet dui egter op die Parlement se erkenning van die behoefte om staatsbesteding in te perk, asook om diegene wat hul aan wanadministrasie skuldig maak, verantwoordelik te hou, en dit is ‘n belangrike stap in die regte rigting.
In lig van die onlangse bevindings deur die OG, dat slegs 33 van die land se 257 munisipaliteite ‘n skoon oudit in 2016-17 ontvang het, en dat onreëlmatige uitgawes met 75% tot R28.4 miljard in 2016-17 gestyg het (van R16.2 miljard in die vorige jaar), kan ‘n mens net hoop dat die Wetsontwerp se instelling die agteruitgang van munisipaliteite se finansies sal vertraag.
Die Wetsontwerp sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word vir instemming.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
29 Mei 2018