Paragraaf 7.2(a) van die Sektorspesifieke Konsepbeleide verklaar dat
“aansoekers evalueer sal word kragtens die volgende gebalanseerde maatstawwe wat opgeweeg sal word ten einde aansoeke te evalueer en assesseer:
(a) Transformasie
Die persentasiesamestelling van die demografiese groepe van die Suid-Afrikaanse bevolking (79.6% swart, 9% bruin, 8.9% wit en 2.5% Asiaties) kan, afgesien van ander maatstawwe betreffende transformasie, gebruik word om aansoekers bo ander te kies wanneer die toekenning van visvangregte en die toedeling van die totale toelaatbare vangs en/ of die totale vangspoging oorweeg word.
Die Stigting het daarop gewys dat die Sektorspesifieke Konsepbeleide verskeie belangrike grondwetlike regte van die bruin visvanggemeenskap in die Wes-Kaap, wat vir generasies hul bestaan uit die seevisserye aan die Wes-Kaapse kus gemaak het, sal skend. Hierdie regte sluit in die grondliggende waardes van nie-rassigheid, menswaardigheid en gelykheid.
Dit sal bots met artikel 9(2) van die Grondwet waar die betrokke maatreëls nie ten gunste van, maar teen ‘n gemeenskap gerig word wat self ‘n kategorie persone is wat deur onregverdige diskriminasie benadeel is. Dit sal neerkom op onregverdige diskriminasie deur die Staat kragtens artikel 9(3) – sonder om enigsins te poog om vas te stel of die diskriminasie regverdig is – soos deur artikel 9(5) vereis word.
Die Sektorspesifieke Konsepbeleide sal die bruin vissersgemeenskap ontneem van hul tradisionele lewensbestaan – wat neerkom op ‘n intieme aspek van hul identiteit, kultuur, tradisies en selfrespek – en wat hul reg op menswaardigheid kragtens artikel 10 ernstig sal ondermyn.
Die Konsepbeleide sal ook die bruin vissersgemeenskap van die Wes-Kaap ontneem van hul reg om die kultuur van hul keuse te beoefen – wat verweef is met hul tradisionele betrokkenheid in die visvangbedryf.
Die Stigting het ook die Departement se aandag gefokus op die onlangse beslissing van die Arbeidsappelhof in Solidarity and Others v the Department of Correctional Services and Others – wat nou deur die Konstitusionele Hof oorweeg moet word. In hul beslissing het Waglay JP and Davis JA die volgende oor die vraag oor streeksdemografie gesê:
“Ter opsomming het die respondente versuim om ag te slaan op die spesifieke streeksdemografie van die Wes-Kaap, wat ‘n vereiste was toe die plan daargestel is. Hierdie versuim het gelei tot ‘n grootskaalse vermindering van die werksmag van lede van die aangewese groep, wat self aan erge diskriminasie weens apartheid onderwerp is. Selfs indien die word “kan” hier toegepas word is dit ons mening dat, gegewe Suid-Afrika se geskiedenis, die versuim om die uitwerking van die streeksdemografie op die aard en doel van die plan in ag te neem, die bydrae van herstelmaatreëls tot wesenlike gelykheid en dus ook tot die poging om die doelwit van die ontwikkeling van ‘n nie-rassige en nie-seksistiese samelewing te verwesenlik, verminder. Hierdie versuim om die streek waar die plan ingestel is in ag te neem, kom neer op ‘n voldoende wetlike hindernis betreffende die plan se nakoming met die Wet op Billike Indiensneming.”
In lig van al hierdie omstandighede het die Stigting die Departement gevra om die verwysing in paragraaf 7.2(a) van die Sektorspesifieke Konsepbeleide betreffende die nasionale demografie wanneer die toekenning van visvangregte oorweeg word, weg te laat. Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
Foto: DanieVDM / Foter / CC BY-NC-SA