Artikel 194 van die Grondwet stel vereistes daar vir die verwydering van Hoofstuk 9-hoofde en lede. Wangedrag, onbevoegdheid, ‘n bevinding daartoe deur ‘n komitee van die NV, en die aanvaarding deur die NV van ‘n resolusie waarin versoek word dat die persoon uit sy amp onthef word, is nodig om die betrokke persoon te verwyder. Die resolusie om die Openbare Beskermer te verwyder, moet met ‘n meerderheid van twee derdes geskied. Sodra die resolusie geneem is en die verrigtinge van ‘n komitee van die NA om die Openbare Beskermer te verwyder, ingestel is, kan die President die Openbare Beskermer skors. As die komitee die resolusie vir verwydering aanvaar, moet die President hom of haar verwyder.

Ingevolge die Reëls, kan enige lid van die NV deur middel van ‘n mosie ‘n proses instel vir die ondersoek na die verwydering van die Openbare Beskermer. Die speaker van die NV moet dan die mosie en sy stawende dokumente vir voorlopige beoordeling na ‘n onafhanklike paneel verwys, en beide die NV en die President in kennis stel van die verwysing. Hierdie paneel sal bestaan uit drie lede wat geskikte en behoorlike Suid-Afrikaanse burgers is, met die nodige regs- en ander bevoegdhede en ervaring om die assessering te doen. Partye wat in die NV verteenwoordig is, moet ‘n redelike geleentheid gebied word om benoemings vir die paneel te maak. ‘n Regter kan op die paneel aangestel word, maar slegs na oorleg met die Hoofregter. Die paneel moet binne dertig dae na sy aanstelling ‘n voorlopige evaluering doen oor die mosie wat die ondersoek na die verwydering voorstel en ‘n aanbeveling aan die speaker maak. Die speaker moet dan die aanbeveling van die paneel vir ‘n besluit van die NV skeduleer. As die NV besluit dat die ondersoek voortgaan, moet die aangeleentheid na ‘n spesiale artikel 194-komitee vir die formele ondersoek verwys word. Daardie komitee sal soortgelyke bevoegdhede hê as enige ander parlementêre komitee en moet die ondersoek uitvoer en die akkuraatheid van die aanklagte teen die betrokke individu bepaal. Hierna moet die komitee aan die NV verslag doen. Die verslag van die komitee, wat sy bevindings, aanbevelings en redes bevat, moet deur die NV bespreek word. As die verslag aanbeveel dat die amptenaar van ‘n Hoofstuk 9-amp uit sy amp onthef word, moet die NV dan stem, en sodanige uitslag word aan die president gekommunikeer vir optrede. Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) neem kennis van en is verheug oor die goedkeuring van die lang verwagte konsepreëls en wag op hul finale goedkeuring. Hierdie proses sal voorsiening maak vir ‘n ondersoek na die geskiktheid van die Openbare Beskermer om haar amp te beklee en inderdaad ‘n ondersoek na enige ander amptenaar van Hoofstuk 9 wie se optrede bevraagteken word. Dit is belangrik dat instellings wie se funksie dit is om die land se grondwetlike demokrasie te ondersteun, volgens artikel 181 te werk gaan – onafhanklik, onpartydig en sonder vrees, voorkeur of vooroordeel. Hierdie proses sal, sodra dit voltooi is, dien as ‘n verdere steunpilaar vir ons hard gewonne demokrasie. 

Uitgereik deur die Sentrum vir Grondwetlike Regte 
27 November 2019

{phocadownload view=file|id=975|text=Laai die PDF af|target=s}

Leave a Reply

Your email address will not be published.