In sy verklaring het die Kommissie daarop gedui dat dit dokumente bekom het van die rekenaarhardeskywe van lede van die SAPD, wat die SAPD eerstens beweer het nie bestaan nie, en wat tweedens volgens die Kommissie deur die SAPD bekendgemaak moes word, en derdens die indruk wek dat sekere dokumente gelyktydig aangeteken is, maar wat blyk dat dit eers ná die gebeure waarna dit verwys, opgestel is; en vierdens, dokumente wat, in die opinie van die Kommissie, daarop dui dat die SAPD se weergawe van die gebeure by Marikana, soos beskryf in die polisie se voorlegging aan die Kommissie en in getuienis deur polisiegetuies voor die Kommissie, wat tersaaklike aspekte aangaan, nie die waarheid is nie.
Indien die bewerings waar is, is die grondwetlike en ander regsgevolge verreikend.
Eerstens moet ernstige vrae gevra word oor die stand van verantwoordbaarheid en deursigtigheid in die SAPD. Daarbenewens opper die bewerings ernstige vrae oor die beheer en bestuur van die SAPD op die hoogste vlakke.
Tweedens, ten opsigte van artikel 6 van die Wet op Kommissies, sal enige persoon skuldig wees aan ’n misdryf indien hul beveel is om voor die Kommissie te verskyn en getuienis te lewer en wat, nadat hulle die eed of plegtige verklaring afgelê het, versuim om enige vraag wat regmatig aan hom of haar gestel word, ten volle of bevredigend te beantwoord, of versuim om enige boek, dokument of item in sy of haar besit of onder sy of haar beheer te lewer wanneer hy of sy beveel is om dit te lewer. Daarbenewens sal enige persoon wat, nadat hy of sy die eed of plegtige verklaring afgelê het, valse getuienis aflê voor ’n kommissie oor enige aangeleentheid, wetende dat sodanige getuienis vals is of nie weet of glo dat dit waar is of nie, skuldig sal wees aan ’n kriminele oortreding.
Derdens, en moontlik die mees kommerwekkendste: indien dít waar is, sal hierdie openbarings moontlik die indruk wek dat daar ’n komplot is om die waarheid van die Kommissie en die publiek te weerhou ten opsigte van die SAPD se optrede - die omvang daarvan en identifikasie van die betrokkenes wat nog vasgestel moet word.
Die bogenoemde gevolge, maar ook die regmatigheid van die Kommissie se uiteindelike bevindings, is duidelik. Die Kommissie was dus korrek om te verklaar dat hy nie sy verklaring ligtelik opgevat het nie. Die feit dat die Kommissie dit nodig geag het om ’n openbare verklaring te maak, eerder as om die aangeleentheid gedurende ’n sitting van die Kommissie te bespreek, dui egter op die ernstige aard van die situasie. Ons stem saam met die Kommissie se gevolgtrekking dat dit belangrik is dat die SAPD die geleentheid gegun word om ’n verduideliking te verstrek oor die bewerings, maar in die afwesigheid van ’n oortuigende verduideliking, sal die dokumentasie wat die Kommissie gevind het ernstige gevolge inhou vir die verdere uitvoering van die werk van die Kommissie.
In hierdie verband is die Minister van Polisie en Nasionale Kommissaris Phiyega uiteindelik verantwoordelik vir die optrede van die SAPD. Hulle moet dus, ingevolge die grondwetlike waardes van verantwoordbaarheid en deursigtigheid - maar ook hul grondwetlike plig om die SAPD doeltreffend te beheer en bestuur - hierdie openbarings onmiddellik verduidelik en - indien dit waar is - verantwoordelikheid vat vir die optrede van diegene wat onder hul beheer en bestuur is.
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte