‘n Terugkeer aan die NOP as die grondslag van die regering se beleid kan ook goeie politiek wees. Die IRV se onlangse meningsopname het aangedui dat daar aansienlike meerderheid steun vir pragmatiese – eerder as ideologiese – benaderings tot die oplossing van nasionale probleme is. Ondersteuning vir ideologiese oplossings kom hoofsaaklik van diegene wat voordeel getrek het – of dit wil baat vind – uit die besondere voorregte wat ideologieë gewoonlik gee: die vakbonde, sommige dele van die politieke/burokratiese klas en die ontevrede en radikale jongmense van die opkomende middelklas.
Die President se beskrywing van die rol van die staat was in groot mate in ooreenstemming met die voorskrifte van die NOP “as ‘n instaatsteller wat basiese dienste en kritiese infrastruktuur verskaf; ‘n reguleerder wat reëls daarstel wat regverdige geleenthede vir alle spelers skep; en ‘n herverdeler wat verseker dat die mees kwesbares in die samelewing beskerm word en die kans kry om hul volle potensiaal te bereik.”
In sy toespraak het President Ramaphosa feitlik al die groot uitdagings wat Suid-Afrika 25 jaar na die vestiging van ons nuwe samelewing konfronteer, geïdentifiseer. Die lys is solank dat dit depressief is: werkloosheid – veral onder die jeug; ongelykheid; ‘n ekonomie wat teen ‘n laer koers groei as ons bevolking; die verwoesting van staatskaping en korrupsie; voortslepende misdaad; disfunksionele ondernemings in staatsbesit – veral ESKOM, met sy skuld van R420 miljard.
Die President het verbeeldingryke inisiatiewe aangekondig om hierdie uitdagings aan te spreek:
- geloofwaardige stappe om ESKOM en ander ondernemings in staatsbesit te red;
- nuwe klem op die belangrikheid om belegging te lok;
- die verwydering van onnodige regulering en rompslomp;
- die bekendstelling van ‘n wêreldklas visum-regime om te help om toeriste teen 2030 te verdubbel;
- inisiatiewe om die koste van data te verlaag;
- ‘n nuwe fokus op belegging in infrastruktuur gebaseer op sterker privaat sektor-openbare sektor vennootskappe;
- ‘n nuwe ‘koop Suid-Afrika’-veldtog om plaaslike nywerheid te stimuleer;
- stappe om basiese onderwys en leesvaardighede te verbeter;
- die skep van ‘n veiliger omgewing deur meer sigbare polisiëring en verbeterde ondersoek en vervolging van misdaad; en
- beslissende stappe om staatskaping te beëindig en korrupsie te beveg, insluitende maatreëls om die Nasionale Vervolgingsgesag, die Spesiale Ondersoekeenheid, SAID en Staatsveiligheid te versterk.
‘n Bykomende doelwit – wat die Stigting graag wil voorstel – sou wees om wetgewing te aanvaar om die oordrag van titelaktes na die 7.5 miljoen swart huishoudings wat hul eie huise besit, te versnel. Besit van titelaktes kan bates ter waarde van ‘n beraamde bedrag van +/- R1.5 triljoen in die hande van swart Suid-Afrikaners vrystel en kan meer doen om Suid-Afrika te transformeer as enige ander enkele inisiatief.
Min Suid-Afrikaners sal nie saamstem met President Ramaphosa se diagnose van die land se huidige toestand nie. Die meeste sal positief reageer op sy beroep om alle Suid-Afrikaners te verenig agter ‘n gesamentlike poging om die uitdagings wat ons konfronteer, aan te spreek.
Die grootste probleme wat die President sal ervaar in die uitvoering van sy SONA-inisiatiewe, sal teenkanting wees van kragtige groepe binne die heersende alliansie – veral van vakbonde en van diegene wie se toekomstige welsyn afhanklik is van die voortsetting van die stelsels van beskerming en korrupsie wat onder President Zuma floreer het. Die ander groot probleem is die staat se vermoë om sy planne uit te voer.
Alle welwillende Suid-Afrikaners moet die President ondersteun wat die epiese stryd betref. In ‘n baie werklike sin sal die toekoms van ons almal van hierdie uitkoms afhang.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
21 Junie 2019