Artikel 25 en die Voorgestelde Hersiening daarvan
Artikel 25 van die Grondwet het twee dele. In subartikels (1) tot (4) word die beskerming teen die arbitrêre ontneming van eiendomsreg en die modaliteite van grondwetlike onteiening beskryf. In subartikels (5) tot (9) word die Staat se verpligting om billike toegang tot grond, grondhervorming en regstelling te verseker, beskryf. Die FWDKS steun die letter en gees van artikel 25, en glo dat beide komponente van artikel 25 in werking gestel en gehandhaaf moet word om doeltreffende en volhoubare grondhervorming te verseker, wat sal lei tot ekonomiese groei en die aspirasies van baie Suid-Afrikaners.
Ons glo nie dat om die twee doelwitte van artikel 25 te bereik, daar enige grondwetlike wysigings nodig is nie. Die Grondwet is nie ‘n belemmering vir grondhervorming nie. Ons is oortuig dat artikel 25 tot dusver nie geïmplementeer is nie. Daar is voldoende bewyse vir hierdie siening. Die belangrikste hiervan is die verslag van die Hoëvlakpaneel oor die beoordeling van belangrike wetgewing en die versnelling van fundamentele verandering (verslag van die Hoëvlakpaneel), aangewys deur die Parlement en gelei deur voormalige President Kgalema Motlanthe. Soos die voormalige Hoofregter van die Konstitusionele Hof, Albie Sachs, in sy getuienis voor die Hoëvlakpaneel verklaar het, is artikel 25 nog nie grondwetlik getoets nie, en daarom moet die Parlement versigtig wees om voorspraak te maak vir ‘n grondwetlike wysiging. Die verslag van die Hoëvlakpaneel lê die skuld vir die gebrek aan vordering met grondhervorming ingevolge artikel 25, feitlik volledig voor die deur van die Regering en dié se gebrek aan politieke wil en kapasiteit.
Die feit dat daar nie enige bewyse is dat artikel 25 ‘n belemmering vir grondhervorming en -herstel is nie, bevestig ons standpunt dat ‘n wysiging onnodig is. ‘n Wysiging sal ook nie help om die gebrek aan die politieke wil en die Staat se kapasiteit om artikel 25 toe te pas, te verbeter nie. Grondwetlike grondhervorming bied herstel van grondregte, die herverdelingsopsie en uiteindelik die vooruitsig van ‘n opgradering van verblyfreg.
Bewyse van vordering met grondhervorming en ‘n omvattende grondoudit is belangrike meganismes om die toenemende populistiese sentiment waamee hierdie debat gedryf word, te balanseer. OSV is ongrondwetlik en sal die ekonomiese struktuur van die land vernietig, en daardeur sal die diskoers oor voedselveiligheid, lewensbestaan en groei, van nul en gener waarde wees. Dit is belangrik om daarop te let dat die landbou in sy ekonomiese vooruitskatting vir die laaste kwartaal van 2017 ‘n netto bydraer tot die BBP was, en bygedra het tot ‘n opwaartse groei in die ekonomie, met die vooruitsig van hersiene groeisyfers vir die nabye toekoms. ‘n Wysiging van artikel 25 is nie korrek nie en sal die huidige gebrek aan vordering nie oplos nie.
Onteiening Sonder Vergoeding
Die parlementêre mosie oor OSV weerspieël in wese die besluit wat die ANC tydens sy verkiesingskonferensie in Desember 2017 aanvaar het. Die twee voorwaardes vir OSV word weer gestel: dit moet gebeur “op ‘n manier wat landbouproduksie verhoog en voedselsekerheid verbeter”. Dit is wesenlik anders as die oorspronklike mosie van die EFF, dat die Staat die bewaarder (“custodian”) van alle grond moet wees. Dit is egter beduidend dat die oorspronklike ANC-besluit bykomende voorwaardes het: OSV moet nagestreef word “sonder om die landbousektor te destabiliseer, sonder om voedselveiligheid in ons land in gevaar te stel en sonder om ekonomiese groei en werkskepping te ondermyn”. Selfs die ANC president het toe gesê dat hierdie proses bestuur moet word op ‘n manier wat nie die ekonomie, landbouproduksie en voedselsekuriteit sou ondermyn nie. Hierdie verskille is subtiel, maar dalk belangrik: die aspek van die ondermyning van die ekonomie verskyn nie in die parlementêre mosie nie. Dit sal fyn dopgehou moet word.
Die ANC-regering het self ‘n stel omvattende beleide en infrastruktuur vir grondhervorming in plek gestel, maar het dit nie doeltreffend geïmplementeer nie – soos die Hoëvlakpaneel se verslag uitwys. Hierdie gebrek aan vordering is in die laaste paar maande deur die EFF aangegryp, veral in sy mosie voor die Parlement in Februarie 2018. Terwyl die EFF-boodskap verleidelik is vir ontnugterde kiesers, is die risiko van die nasionalisering/staatsbewaring van alle grond, vir alle Suid-Afrikaners enorm. Dit sal neerkom op algemene bate beslaglegging en die implikasies vir die middelklas is duidelik. Die vraag is watter skade oor die lang termyn aan die demokratiese bestel berokken word as anargie toegelaat word. Vandag kan dit eiendomsregte wees, en môre kan dit oorspoel na ander sektore en ander grondwetlike beskermings. Die EFF se deursigtige poging om gemoedere op te jaag moet ontbloot word vir wat dit is. Die oordrag van alle grond na die staat vir “bewaring” is nie in die belang van enige Suid-Afrikaner nie, gegewe die bewese gebrek aan staatskapasiteit om grond vir grondhervormingsdoeleindes optimaal te administreer. Die ondermyning van eiendomsregte sal ewe veel impak op almal hê.
Ons glo dat die debat en moontlike oplossings op feite en bewyse gebaseer moet wees. Dit is dus noodsaaklik dat die feite oor wie watter grond besit en wat sedert 1994 gebeur het, op die tafel geplaas word. In hierdie verband is die regering se onlangse grondoudit nie behulpsaam nie. Om, soos wat in die mosie herhaal is, te sê dat swart Suid-Afrikaners slegs 2% van landelike grond en 7% van stedelike grond besit, is duidelik baie ver van die waarheid. ‘n Ander grondoudit, wat deur AgriSA uitgevoer is, wys dat meer vordering gemaak is met die kommersiële oordrag van grond (op die ope mark), maar sommiges kan aanvoer dat hierdie oudit ‘n gebrek aan politieke legitimiteit het. ‘n Vergelyking van die twee grondoudits toon duidelike verskille en teenstrydighede. Daar is ‘n behoefte aan ‘n proses om oor die feite saam te stem.
Ons glo ook dat die verslag van die Hoëvlakpaneel ‘n paar uitstekende voorstelle bevat, waarvan ons die meeste ondersteun, insluitende die noodsaaklikheid om onmiddellik te fokus op die uitbreiding van private eiendomsbesit aan swart Suid-Afrikaners, insluitend miljoene in stedelike gebiede en mense wat op kommunale grond woon. Die realiteit wêreldwyd – en Suid-Afrika is geen uitsondering nie – is dat verstedeliking steeds versnel en dat hierdie realiteit beleid moet bepaal. Vir mense wat wil boer en betrokke raak in die landbou-ekonomie, moet hulpbronne – insluitend finansies en infrastruktuur – beskikbaar gestel word om hulle suksesvol te maak.
Ons moet ook beklemtoon dat enige poging om die stelsel van eiendomsreg te vernietig, ‘n negatiewe uitwerking op diegene met onsekere verblyfreg sal hê, aangesien hulle die slagoffers sal wees van geen vergoeding wanneer hul van hulle grond afgesit word. Dit is herhaaldelik bewys dat afskaffing van private eienaarskap ‘n vernietiger van gelyke geleenthede is.
Dit word wel verwelkom dat die taak om artikel 25 te hersien, aan die Grondwetlike Hersieningskomitee gegee word. Dit sal ten minste verseker dat daar ‘n verskeidenheid van menings en feite na vore sal kom om die debat te verdiep. En hierdie komitee is verplig om die publiek ‘n geleentheid te gee om hulle menings te lug. In die debat moet bestaande grondwetlike en regsmaatreëls om verandering teweeg te bring oorweeg word – sonder om die grondslag van ons grondwetlike demokrasie en die ekonomie te bedreig. Onlangs gepubliseerde ekonomiese statistieke toon ‘n verbetering, wat grootliks (en ironies genoeg) deur die landbousektor gedryf word. Groei is in die belang van elke Suid-Afrikaner, en inklusiewe groei selfs meer.
Afleiding
Die FWDKS sal voortgaan om enige wysiging van artikel 25 van die Grondwet teen te staan. Terselfdertyd sal ons voortgaan om kreatiewe en realistiese maniere te soek en voor te stel om die eienaarskap van grond vir alle Suid-Afrikaners verder uit te brei.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
15 Maart 2018