Hierdie tendense, waaroor wyd berig gelewer is – of dit nou werklike of vermeende tendense is – sluit in:
- ’n Oënskynlik toenemende tendens deur die Speaker en ander voorsittende beamptes om op só ’n wyse op te tree dat hul vermoë om op objektiewe wyse oor die Huis en sy komitees waar te neem, ernstig bevraagteken kan word;
- ’n Versuim deur die Nasionale Vergadering en sy komitees om die optrede deur die uitvoerende gesag doeltreffend na te gaan en om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep oor verskeie aangeleenthede soos wanbesteding wat deur die Ouditeur-generaal uitgewys is, wanadministrasie soos deur die Openbare Beskermer uitgewys is, en menseregteskendings soos deur die SA Menseregtekommissie uitgewys is;
- ’n Algemene versuim deur die Nasionale Vergadering om te debatteer oor aangeleenthede van grondwetlike en openbare belang;
- ’n Toenemende versuim deur die uitvoerende gesag – met inbegrip van die President – om aan die Parlement se toesighoudende funksie onderhewig te wees en om dit te respekteer, met inbegrip van die plig om in die Huis en voor komitees te verskyn om vrae te beantwoord en om hul optrede en besluite te verduidelik; en
- ’n Kommerwekkende ontwikkeling met betrekking tot die uitvoerende gesag wat inmeng by aangeleenthede wat met die Parlement en die werksaamhede van die Nasionale Vergadering verband hou – wat duidelik teenstrydig is met die Grondwet en die beginsel van die skeiding van magte.
Die Parlement – en spesifiek sy Nasionale Vergadering – is ’n hoeksteen van ons veelparty-stelsel van demokratiese regering. Gevolglik is die Nasionale Vergadering, kragtens artikel 42(3) van die Grondwet, aangewys om die mense te verteenwoordig en om ’n verantwoordelike en oop regering met ’n responsiewe ingesteldheid te verseker. Dit word verwesenlik deur, onder andere, ’n nasionale forum daar te stel vir die openbare oorweging van aangeleenthede en deur optrede deur die uitvoerende gesag na te gaan en daaroor toesig uit te oefen. Gevolglik moet die Nasionale Vergadering in beginsel – en ten minste – aangeleenthede van nasionale belang debatteer en moet verseker dat die uitvoerende gesag steeds daaraan verantwoording doen. Die uitvoerende gesag moet op sy beurt die Parlement respekteer en homself onderwerp aan die Parlement se toesighoudende funksies.
Ten einde vir die Nasionale Vergadering om ’n forum vir debat te wees en om sy toesighoudende magte uit te voer soos deur die Grondwet vereis word, beskik die kabinetslede, Adjunkministers en lede van die Nasionale Vergadering, kragtens artikel 58, oor vryheid van spraak in die Nasionale Vergadering en in sy komitees (onderhewig aan sy reëls en orders). Gevolglik is hulle in beginsel nie is nie “blootgestel aan siviele of strafregtelike verrigtinge, inhegtenisneming, gevangesetting of skadevergoeding…vir enigiets wat hulle in of voor of aan die Vergadering of enige van sy komitees gesê, blootgelê of voorgelê het nie.”
Tydens die onlangse ingryping deur die SA Polisiediens se eenheid vir openbare orde het lede van die SAPD egter die Huis binne gegaan en ’n lid van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) verwyder en lede van die amptelike opposisie, die DA, hardhandig behandel. Hierdie is klaarblyklik gedoen óf op aanbeveling van die Speaker, óf ten minste met haar toestemming. Die jongste voorval het gevolg nadat ’n mediakonferensie vroeër vanjaar gehou is deur ministers van die groep sekuriteit, waartydens die Minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, met betrekking tot die Nasionale Vergadering gesê het dat sekere maatreëls deur die groep sekuriteit daargestel is betreffende die Nasionale Vergadering wat onmiddellik van krag is ten einde te verseker dat die staat en die gesag van die Parlement nie ondermyn sal word nie.
Die Parlement moet ook, in beginsel, sy werk doen en sy sittings en die sittings van sy komitee op ’n oop wyse uitvoer. Gevolglik mag die Nasionale Vergadering nie die publiek, met inbegrip van die media, van sy sittings of vergaderings van Komitees uitsluit nie, tensy dit redelik en regverdig is in ’n oop en demokratiese samelewing. Nietemin is die regstreekse uitsending van die parlementêre televisiekanaal vir ’n tweede keer in twee maande opgeskort, klaarblyklik omdat die Speaker se beslissing deur die opposisiepartye uitgedaag is.
Die selektiewe manier waarop die Speaker en die uitvoerende gesag die Wet op die Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers en die reëls en gebruike van die Nasionale Vergadering gebruik, klaarblyklik ten einde behoorlike debat en toesighouding te onderdruk, is uiters kommerwekkend. Daarbenewens rig die meerderheidsmentaliteit wat deur die regerende party in die Nasionale Vergadering ten toon gestel word, en die wyse waarop die prosedures van die Parlement klaarblyklik gemanipuleer word ten einde die uitvoerende gesag te beskerm, ernstige skade aan die geloofwaardigheid van die Parlement, ons veelparty-stelsel van demokratiese regering en die idee van grondwetlike demokrasie aan.
Deur adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto : GovernmentZA / Foter / CC BY-ND