Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) verwelkom die President se besluit, aangesien dit die belangrikheid van die onafhanklikheid van die Kantoor van die NVG herbevestig. Dit vereis dat aanklaers hul funksies moet vervul sonder “vrees, guns of vooroordeel”.

Die Mokgoro-kommissie, wat kragtens artikel 12(6) van die Wet op die NVG ingestel is, is ingestel om te ondersoek of beide advokate geskik en gepas was om ampte binne die NVG te beklee, na aanleiding van verskeie negatiewe kommentaar wat teen hulle in hofbeslissings gemaak is. Hierdie negatiewe kommentaar het betrekking op hul professionele gedrag, hantering van die Hof en die wyse waarop hulle hul diskresie uitgeoefen het om strafregtelike verrigtinge in te stel, uit te voer en te staak. Dit het spesifiek betrekking op die omstrede onttrekking van aanklagte teen die voormalige hoof van die misdaad-intelligensie-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens, mnr Richard Mdluli, die Spy Tapes-saak en die vervolging van die voormalige KwaZulu-Natalse Valke baas, Johan Booysen.

Die Kommissie se Verslag, wat amptelik op 26 April 2019 bekendgestel is, het aangevoer dat, wat die sake betref wat oor die algemeen met advokaat Jiba verband hou, “…the Courts’ observance of Jiba’s attitude throughout the course of the various reviews was characterised by non-responsiveness and irreverence towards the Courts. Furthermore, Jiba lacked accountability and sought to shift responsibility when she was expected to act under an order”. Die Kommissie het beklemtoon dat aanklaers beamptes van die Hof is en verplig is om die Hof by te staan en sodoende die regstaat te handhaaf. Met betrekking tot advokaat Mrwebi, het die Kommissie spesifiek bevind dat hy nie met integriteit opgetree het soos vereis ingevolge die NVG-wet nie, en dat die wyse waarop hy sy pligte uitgevoer het, “openlik in stryd was met dit wat van ‘n persoon in sy posisie verwag word”.

Die President se besluit, sy redes, asook vertoë deur die advokate, moet binne 14 dae by die Parlement ingedien word – indien die Parlement in sessie is. Indien nie in sessie nie, dan binne 14 dae nadat die Parlement weer begin. Die Parlement word dan versoek om binne 30 dae na ontvangs van sodanige kennisgewing (of so gou as redelikerwys moontlik) ‘n besluit te gee, met vermelding of die ontheffing aanbeveel word of nie.

Alhoewel hierdie besluit die einde van die pad vir advokate Jiba en Mrwebi in die NVG aandui, moet die Konstitusionele Hof nog uitspraak lewer oor hul verwydering van die Rol van Advokate – wat verskil van hul geskiktheid om ampte in die NVG te beklee. 

Die bevindings van die Kommissie herinner ons aan die belangrike feit dat aanklaers die Oppergesag van die Reg moet handhaaf. Deur dit te handhaaf, kan die vertroue van die publiek in die institusionele onafhanklikheid van die NVG hopelik herstel word. In die woorde van die Kommissie moet “die NVG ‘n sterk gevoel van grondwetlike waardes en geloof in die oppergesag van die reg skep”.

Hierdie besluit van die President – terwyl daar nog op parlementêre goedkeuring gewag word – is ‘n klein maar baie belangrike stap om een van die belangrikste staatsinstellings weg te vat van individue wat nie opgetree het soos die Grondwet voorskryf nie.

Deur me Christine Botha: Waarnemende Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
26 April 2019

Leave a Reply

Your email address will not be published.