Me Dube sal in hierdie posisie die direkteur van die SGR bystaan met die behaling van die Sentrum se doelwitte om die waardes, regte en beginsels in die Grondwet te bevorder; om ontwikkelings te monitor, met inbegrip van konsepwetgewing betreffende die Grondwet; om mense en organisasies in te lig oor hul grondwetlike regte en verpligtinge; en om mense en organisasies by te staan om hul regte op te eis.
Me Dube het ’n LL.B-graad aan die Universiteit van Fort Hare behaal, ’n LL.M-graad aan die Universiteit van Stellenbosch, sowel as ’n diploma in Europese Studies aan die Universiteit van Wene. Sy het haar leerkontrak in 2006 by die Rhodes-universiteit se regshulpkliniek voltooi en internasionale ervaring opgedoen as klerk vir die Adjunkpresident van die Internasionale Kriminele Hof.
Me Dube het onlangs ’n navorsingsbeurs in menseregte aan die Ludwig Boltzman Instituut vir Menseregte aan die Universiteit van Wene afgehandel. Haar gebiede van kundigheid sluit in Staatkunde, Internasionale Reg en Eiendomsreg.
Me Dube se ervaring en kennis – spesifiek met betrekking tot menseregte en Staatkunde – sal van groot waarde wees vir die SGR en sy doelwit om die waardes, regte en beginsels vervat in die Grondwet in die beste belange van almal wat in Suid-Afrika woon, te bevorder.
Uitgereik deur die Sentrum vir Grondwetlike Regte