Die Spitsberaad is ’n jaarlikse geleentheid wat ten doel het om die ervarings van Nobelvredespryswenners met die wêreld te deel, en veral met die volgende geslag jong leiers. Die Spitsberaad sal van 13 tot 15 Oktober 2014 in Kaapstad plaasvind. Hierdie jaar – die eerste herdenking van Mandeladag sonder Madiba – sal die Spitsberaad opgedra word aan die herinnering van Nelson Mandela en sal dit die aandag vestig op die vordering wat deur Suid-Afrika gemaak is tydens ons eerste 20 jaar van grondwetlike demokrasie.

Personeel van die FW de Klerk Stigting sal aan verskeie aktiwiteite deelneem om ’n diens aan hul mede-Suid-Afrikaners op Mandeladag 2014 te lewer. Die Stigting se Uitvoerende Direkteur, Dave Steward, sal ’n vergadering van die Ad hoc-komitee oor Eiendomsregte bywoon ten einde te verseker dat grondhervorming in Suid-Afrika binne die raamwerk van die Grondwet geskied. Ander personeellede van die Stigting en sy Sentrum vir Grondwetlike Regte sal hul 67 minute aan die Woodside-spesiale sorgsentrum skenk. Die Stigting het ’n lank bestaande verhouding met Woodside, wat omsien na 90 kinders en jong volwassenes wat intellektueel en fisies ernstig gestrem is. Sodoende kan ’n klein persentasie van die vele gemarginaliseerde mense in Kaapstad gehelp word.

Besoek www.nobelforpeace-summits.org vir meer inligting oor die Internasionale Spitsberaad van Nobelvredespryswenners.

Besoek www.woodside.org.za vir meer inligting oor die Woodside-spesiale sorgsentrum.


Leave a Reply

Your email address will not be published.