Die grootste politieke gebeurtenis van die jaar sal waarskynlik die algemene verkiesing wees wat in Mei gehou sal word. Politieke partye het reeds hul veldtogte afgeskop, en Suid-Afrikaanse kiesers gaan gebombardeer word met inligting, sommige wat waar gaan wees en sommige wat fopnuus gaan wees. Dit is dus belangrik om nugter te bly en die nodige perspektief voor oë te hou in die maande wat voorlê. Ons sal ons ondersteuners en die algemene publiek bystaan met insiggewende artikels, verklarings en toesprake deur die Stigting, sowel as ons Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) en Sentrum vir Eenheid in Diversiteit (SED).
Die Stigting se jaarlikse konferensie op 2 Februarie (ter herdenking van voormalige President FW de Klerk se historiese toespraak in die Parlement in 1990) sal vanjaar op 1 Februarie plaasvind, met die belangrike tema “Om ongelykheid aan te pak”. Dit is ‘n hartseer realiteit dat ongelykheid onder Suid-Afrikaners sedert 1994 steeds hoog is. Dit is in ons gesamentlike belang (en ‘n mandaat van ons Grondwet) om hierdie ernstige aangeleentheid aan te pak ten einde ‘n land vir ons almal te verseker. Uitnodigings na hierdie belangrike konferensie sal binnekort volg.
Die jaarlikse SGR-menseregteverslagkaart sal op 20 Maart, die dag voor Menseregtedag, bekendgestel word. Die publikasie het ‘n leidende publikasie geword wat die evaluering van veral die regering se handhawing van die Handves van Regte betref. Hierdie jaar sal geen uitsondering wees nie.
Die eerste publikasie van ‘n SED-verslagkaart oor kultuur-, godsdiens- en taalregte sal die lig in die eerste helfte van 2019 sien. Dit sal die handhawing van hierdie en ander regte (soos nie-rassigheid) deur die Regering en ander tersaaklike instellings aanraak. Ons is opgewonde hieroor, aangesien dit op ‘n sinvolle manier tot die bestaande Menseregteverslagkaart sal bydra.
Benewens hierdie vier geleenthede sal die Stigting en sy twee sentrums die gewone ontbytbesprekings, rondetafelbesprekings en werkswinkels regdeur die jaar aanbied. Ons openbare besprekings vir die eerste helfte van die jaar sal, soos toepaslik, fokus op verkiesingsverwante kwessies, insluitende die waarde van openbare deelname aan demokrasie. Ons sal ook voortgaan om kommentaar te lewer oor voorgestelde wetgewing. Die eerste hiervan sal oor die Prevention and Combatting of Hate Crimes en die Hate Speech Bill and on the draft Expropriation Bill wees, waarvan beide se spertye teen die einde van Februarie is. Die ander tema wat ons steeds sal dophou, is die proses betreffende onteiening sonder vergoeding (OSV). Sodra die voorgestelde bewoording van die verandering van artikel 25 bekendgemaak word, sal die Stigting – saam met baie ander organisasies wat teen hierdie grondwetlike wysiging gekant is – heel moontlik hof toe gaan om die verandering teen te staan.
Ten slotte wil ons ons intekenaars en ondersteuners bedank vir hul steun in 2018, en oor die afgelope 19 jaar. Ons hoop dat ons op u voortgesette steun (ook in die vorm van finansiële bydraes) in 2019 kan staatmaak, soos wat ons voortgaan om die hoeksteen van ons samelewing, die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, te bevorder en beskerm.
Theuns Eloff, Uitvoerende Direkteur
7 Januarie 2019