Terselfdertyd het Suid-Afrikaners hul beleggings in ander lande vinnig vermeerder. Oor die afgelope drie jaar was daar ‘n uitvloei van R216 miljard – slegs R26 miljard minder as die invloei van direkte buitelandse belegging gedurende hierdie tydperk. Volgens UNCTAD se Wêreld-beleggingsverslag vir 2015 is ons uitgaande voorraad van US$134 miljard vinnig besig om ons inkomende voorraad van US$145 miljard in te haal.
So waarom gaan besighede nie voort om in Suid-Afrika te belê nie?
Volgens die internasionale raadgewende firma, AT Kearney, is die hoofrede dat kapitaal herlei word na ontwikkelende markte, soos wat beleggers weg beweeg van ontluikende markte na veiliger bestemmings vir beter opbrengste.
In Suid-Afrika se geval is beleggers ook beïnvloed deur negatiewe indrukke wat spruit uit lae ekonomiese groei; die afgradering deur graderingsagentskappe en Eskom se onvermoë om voldoende elektrisiteit op te wek. Beleggers vereis ook sekerheid wat regulering betref, asook ‘n oop beleggingsomgewing.
Suid-Afrika stuur al die verkeerde boodskappe aan potensiële beleggers – veral wat eiendomsregte betref:
- Drie jaar gelede het Suid-Afrika sy bilaterale beleggingsooreenkomste met verskeie Europese lande eensydig beëindig.
- Verskeie wetgewing wat tans voor die Parlement dien dreig om eiendomsregte van Suid-Afrikaners en buitelanders te ondermyn.
- Beleggers is onderhewig aan Suid-Afrika se wette ten opsigte van transformasie, wat sal voortgaan om die persentasie van beleggings wat deur aangewese Suid-Afrikaners besit moet word, op te jaag. Maatskappye sal ook belangrike personeel moet aanstel op grond van demografie, en sal gedruk word om goedere en dienste aan te skaf – nie op grond van prys en gehalte nie – maar op grond van verskaffers wat aan BSEB voldoen.
Afgesien van die bedreiging vir eiendomsregte, moet buitelandse en plaaslike beleggers ook Suid-Afrika se arbeidsmark in gedagte hou – met die swakste werknemer/werkgewer-verhoudings in die wêreld.
Waarom sal enige iemand dan wil voortgaan om in Suid-Afrika te belê? Daar is sewe redes:
- Ons het ‘n uitstekende privaatsektor. Suid-Afrika vaar baie goed in verskeie kategorieë wat deur die Wêreld-ekonomiese forum se Internasionale Mededingendheidsverslae geëvalueer word:
- Die regulasie van ons sekuriteitsbeurse en ons verslagdoeningstandaarde is van die beste ter wêreld;
- Ons banke is die tweede mees stabiel in die wêreld en ons korporatiewe direksies is die tweede mees doeltreffendste. Ons finansiële dienste en beskerming van belanghebbende minderheidsgroepe is die derde beste ter wêreld en ons vermoë om plaaslike aandele te finansier is die vierde beste ter wêreld.
- Suid-Afrika is ook in die top 20% ter wêreld ten opsigte van sy indeks van wetlike regte; beleggersbeskerming; die gehalte van sy bestuurskole; afhanklikheid van professionele bestuur; die doeltreffendheid van sy wetlike geskille-stelsel; die grootte van sy plaaslike mark en universiteitsgedrewe innovasie.
- Ons beskik oor maatskappye wat kan meeding met die beste wat die wêreld kan bied.
- Ons het die vermoë om grootskaalse projekte te bestuur – soos bewys is deur die enorme sukses van die Sokkerwêreldbeker in 2010.
- Ons beskik oor ‘n groot en tot dusver onderontwikkelde plaaslike mark. Soos wat meer en meer Suid-Afrikaners opskuif op die leer van ekonomiese ontwikkeling, sal hulle ‘n plaaslike mark daarstel wat die potensiaal het om vir baie dekades teen hoë koerse te groei.
- Suid-Afrika is een van die grootste poorte na Afrika – een van die wêreld se streke wat die vinnigste groei.
- Suid-Afrika is op die punt om ‘n enorme infrastruktuuruitbreidingsprogram van stapel te stuur wat beleggings van meer as US$500 miljard oor die volgende 15 jaar sal benodig.
- Ons beskik oor enorme onbenutte potensiaal as ‘n toeriste-bestemming. Kaapstad word gereeld aangewys as een van die top bestemmings ter wêreld. Ons beskik oor ‘n lewendige, multikulturele bevolking, uitstekende teater en musiek – en ‘n paar werklik uitstekende restaurante.
- Ons het die volopste minerale bronne in die wêreld. Indien ons beleide kan aanvaar wat beleggers meer goedgesind is, is daar geen rede waarom hulle nie sal voortgaan om vir nog baie jare tot groei by te dra nie.
- Laastens kan een van ons grootste nasionale bates – ironies genoeg – een van ons probleme en uitdagings wees. Hulle sê dat Australië se grootste probleem is dat dit geen probleme het nie. Niemand kan dit oor ons sê nie. Suid-Afrikaners kan nie bekostig om oorgerus te wees nie. Ons kan nooit op ons louere rus nie en ons het gewys dat ons oor die vermoë beskik om baie erger uitdagings te oorkom as wat ons nou die hoof moet bied.
Ander redes vir vertroue sluit in:
- Ons uitstekende Grondwet – wat nie absolute mag aan die Parlement en Uitvoerende Gesag oordra nie. Dit verleen aan hulle al die mag wat hulle nodig het om te regeer – maar vereis van hulle om dit te doen binne die redelike beperkings wat deur die Handves van Regte daargestel is;
- Die dissipline wat deur globalisering ingestel is. Enige optrede deur die regering wat te ver afwyk van internasionale norme van demokratiese en ekonomiese regeringsbestuur sal deur markte en internasionale menings gestraf word;
- Die enorme voordeel op die ‘slagveld van idees’ van diegene wat pragmatiese grondwetlike en ekonomiese benaderings steun. Ideologiese benaderings – soos apartheid – die Nasionale Demokratiese Revolusie en kommunisme – werk eenvoudig nie; en
- Laastens, wydverspreide steun vir die Grondwet. Politici, joernaliste, sakemanne en godsdienstige leiers uit al ons bevolkingsgroepe is op die voorgrond van diegene wat die Grondwet steun. Hulle weet dat dit die beste waarborg is vir die voortgesette vryheid, versoening en nasionale eenheid – en hulle weet ook dat dit transformasie bepleit.
FW de Klerk het sy toespraak afgesluit met die volgende raad:
- “Belê in die land – dit het enorme potensiaal en is die poort na een van die streke in die wêreld wat die vinnigste groei;
- Belê in Suid-Afrikaanse mense – ons het een van die mees kosmopolitiese bevolkings in die wêreld – verryk word deur ‘n groot verskeidenheid kulture; en
- Belê in ons Grondwet: verbind jouself daartoe om ‘n bydrae te maak tot sy visie vir menswaardigheid; vir die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede vir alle Suid-Afrikaners.”
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting