Kragtens artikel 185(1)(a) van die Grondwet is die Kommissie verplig om respek te bevorder vir die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe; artikel 185(2) bemagtig die Kommissie om kwessies betreffende die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe te monitor, te ondersoek, na te vors, opvoeding daaroor te voorsien, steun daarvoor te werf, daaroor te adviseer en verslag daaroor te doen.

Dit is in hierdie konteks dat die Stigting die KGT-kommissie bewus gemaak het van die opmerkings deur Minister Nzimande met betrekking tot die Afrikaans-medium hoër onderwysinstelling, Akademia, waar hy na bewering gesê het dat “daar geen plek vir ‘n private universiteit is waar Afrikaans die enigste taal van onderrig is nie” en dat sodanige instelling “rassisties” sou wees.

Die Stigting het die Kommissie inter alia gevra om ondersoek in te stel na die Minister se bewerings dat (1) enkelmedium-instellings wat onderrig bied in enige ander taal as Engels ontoelaatbaar is en (2) dat ‘n enkelmedium Afrikaanse instelling rassisties is – selfs al sluit die Afrikaanssprekende gemeenskap ‘n groot getal mense van alle rasse in Suid-Afrika in.

Die Minister se opmerkings blyk om teenstrydig te wees met die volgende grondwetlike bepalings:

Die Stigting het daarop gewys dat alhoewel die aangeleentheid wat die Stigting onder die aandag van die Kommissie gebring het, verband hou met die taalregte van die Afrikaanssprekende bevolking, dit duidelik die geldige regte van die sprekers van al die ander amptelike tale van Suid-Afrika raak. Ingevolge die Minister se uitsprake sou dit dus, vermoedelik, net so onaanvaarbaar wees om enkelmedium private of openbare universiteite te stig wat kies om enkelmediumonderrig in isiZulu, Setswana of enige van Suid-Afrika se ander inheemse tale aan te bied.

Volgens die Minister se uitsprake is slegs Engels aanvaarbaar as die algemene taal van toegang tot universiteit en dus tot onderrig oor die algemeen. Dit verleen aan Engels ‘n de facto status gelykstaande aan dié van ‘n enkele amptelike taal. Hierdie benadering is onversoenbaar met die hele samestelling en doelwit van artikel 6 van die Grondwet en die vereiste dat alle amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet en billik behandel moet word.

Die voorlegging versoek die Kommissie om ‘n aanbeveling te maak dat die Minister, met betrekking tot al sy optrede en beleide, verseker dat alle Suid-Afrikaners se amptelike tale ontwikkel word en gelykheid van aansien geniet. Die Minister moet ook aangeraai word om geen wetgewing of regulasies te aanvaar wat die regte van enige Suid-Afrikaanse taalgemeenskap negatief kan raak nie.

Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
8 Julie 2015

Leave a Reply

Your email address will not be published.