Saam met die Universele Verklaring van Menseregte, die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte en twee Opsionele Protokolle, vorm die ICESCR deel van die Internasionale Handves van Menseregte. Die bekragtiging vind plaas 21 jaar nadat President Mandela die eerste keer die ICESCR onderteken het, wat Suid-Afrika se reis na die bevordering en beskerming van die ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte van sy mense van stapel gestuur het.
Die bekragtiging volg op ’n uitgerekte stryd deur Suid-Afrikaanse menseregtegroepe, wat al vir jare ’n beroep op die regering doen om die ICESCR te bekragtig en te inkorporeer. Op 10 Oktober 2012 het die Kabinet tot Suid-Afrika se beplande bekragtiging ingestem. Suid-Afrika het uiteindelik sy bekragtigingsmaatreëls op 12 Januarie 2015 by die Verenigde Nasies ingedien. Suid-Afrika het egter die Verdrag bekragtig met die verklaring dat die land “progressiewe uitvoering sal gee aan die reg op onderwys, soos waarvoor in artikel 13(2)(a) en artikel 14 voorsiening gemaak word, binne die raamwerk van sy Nasionale Onderwysplan en beskikbare bronne.” Suid-Afrika moet nou die ICESCR inkorporeer (wat vir Suid-Afrika op 12 April 2015 in werking tree) – veral daardie bepalings van die ICESCR waarvoor nie reeds in die Grondwet en ander wetgewing voorsiening gemaak is nie.
Die meeste van die regte in die Verdrag is reeds ingesluit in die Suid-Afrikaanse Handves van Regte. Die volgende bepalings kan egter van spesiale belang wees vir Suid-Afrika:
Artikel 2.2 “Die Staatspartye verbind tot die huidige Verdrag onderneem om te waarborg dat die regte wat in die huidige Verdrag uiteengesit word uitgevoer sal word sonder diskriminasie van enige soort met betrekking tot ras, kleur, geslag, taal, godsdiens, politieke of ander mening, nasionale of maatskaplike oorsprong, armoede, geboorte of ander status.” (Sommige aspekte van regeringsbeleid met betrekking tot regstellende aksie en demografiese verteenwoordiging mag dalk strydig met hierdie vereiste wees.)
Artikel 6.1 “Die Staatspartye wat tot die huidige Verdrag verbind is erken die reg om te werk, met inbegrip van almal se reg om die geleentheid te hê om ’n bestaan te maak deur werk wat hy vrylik kies of aanvaar, en sal toepaslike stappe doen om hierdie reg te beskerm.” (Die Suid-Afrikaanse Handves van Regte sluit nie ’n bepaling in wat die reg om te werk erken nie.)
Artikel 7(ii)(c) “Die Staatspartye verbind tot die huidige Verdrag erken die reg van almal om regverdige en gunstige werksomstandighede te geniet” met inbegrip van:
“(c) Gelyke geleentheid vir almal om in sy diens tot gepaste hoër vlak bevorder moet word, onderhewig tot geen oorwegings behalwe dié van senioriteit en bevoegdheid nie;” (Sommige van die regering se beleide betreffende regstellende aksie wat rassekwotas en demografiese verteenwoordiging vereis kan moontlik onversoenbaar met hierdie bepaling wees.)
Artikel 9 “Die Staatspartye verbind tot hierdie Verdrag erken almal se reg op maatskaplike sekerheid, met inbegrip van maatskaplike versekering.” (Die regering bied nog nie omvattende maatskaplike sekerheid of maatskaplike versekering nie.)
Artikel 11.1 “Die Staatspartye verbind tot die huidige Verdrag erken almal se reg op ’n voldoende lewenstandaard vir homself en sy familie, met inbegrip van voldoende voedsel, klere en behuising, en op die voortgesette verbetering van lewensomstandighede.” (Hierdie reg word nie uitdruklik ingesluit in die Suid-Afrikaanse Handves van Regte nie.)
Die regering se besluit is geloof deur die SA Menseregtekommissie (SAMRK), wat gesê het dat “dit verseker dat Suid-Afrika uiteindelik in staat is om sy internasionale verpligtinge na te kom en om sy verbintenis om armoede te verlig en geregtigheid vir almal te verseker, na te kom”.
Saam met die SAMRK hoop die FW de Klerk Stigting dat die bekragtiging die beskerming, bevordering en verwesenliking van maatskaplike, ekonomiese en kulturele regte van almal in Suid-Afrika sal verseker en bevorder.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting