Tydens sy onlangse konferensie oor die ontwikkelingstaat het die Staatsdienskommissie aandag geskenk aan die doeltreffendheid van die Suid-Afrikaanse staatsdiens, en het erken dat kapasiteitstekorte 20 jaar ná die geboorte van demokrasie steeds voortduur, en dat nasionale transformasiepraktyke nie doeltreffend is nie. Dit verwys na staatsdepartemente wat beleide oor regstellende aksie uitbuit deur werksreservering, deur nie ’n wit kandidaat aan te stel wanneer geskikte swart kandidate nie beskikbaar is nie. Die konferensie, wat transformasie, werwing en keuringsbeleide in oënskou geneem het en samesprekings gehou het oor hoe sy werksaamhede verbeter kan word, sal nou ’n strategiese raamwerkdokument saamstel wat volgende jaar in die Parlement ter tafel gelê sal word.

Die Staatsdienskommissie, wie se mandaat in artikel 196(4) van die Grondwet vervat word, moet die waardes en beginsels bevorder wat openbare administrasie in die staatsdiens bestuur, moet die staatsdiens ondersoek en monitor en moet maatreëls voorstel om prestasie te verbeter. Deur die konferensie aan te bied het die Staatsdienskommissie voldoen aan sy grondwetlike mandaat, asook aan die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se aanbevelings betreffende die behoefte om te streef na ’n staat wat meer bevoeg is, meer professioneel is en ’n groter responsiewe ingesteldheid het teenoor die behoeftes van sy burgers.

Die NOP is verbind tot die stigting van ’n bevoegde ontwikkelingstaat. Só ’n staat kom nie tot stand deur ’n verordening nie en kan ook nie deur verklarings in wetgewing vervat word of tot stand kom nie. Dit moet gebou word, baksteen vir baksteen, instelling vir instelling, en moet oor tyd onderhou en vernuwe word. Ten einde sodanige staat te bou moet die staatsdiens volgens die NOP geprofessionaliseer word, kandidate van hoë gehalte moet gelok word en die rol van die Staatsdienskommissie ten opsigte van die monitering van die werwingsproses moet versterk word. Sterk en doeltreffende instellings laat ontwikkelingstate toe om hul doelwitte te bereik; sodanige instellings word altyd op meriete gebaseer.

Ten einde die doelwit van ’n ontwikkelingstaat – waar die staat se makro-ekonomiese beleide tot groei lei – te verwesenlik, moet die staat sy belangrike kenmerke van rasionaliteit, meritokrasie en professionele burokrasie verwesenlik. Sonder ’n bevoegde, regmatige, prestasie-gedrewe staat kan ’n ontwikkelingstaat nie behaal word nie.

Met sy verbintenis tot die staatsdiens het die waarnemende voorsitter van die Staatsdienskommissie, Richard Sizani, aanbeveel dat kandidate op ’n oop en mededingende wyse aangestel word, gebaseer op toelatingseksamens. Die klem wat hy lê op die hersiening van die indiensnemingsproses, die behoefte om aandag te skenk aan kaderontplooiïng en om die staatsdiens die loopbaan van keuse te maak, is alles stappe in die regte rigting. ’n Deursigtige staatsdiens, wat talent kan lok om ’n doeltreffende burokrasie daar te stel, sal ongetwyfeld bydra tot ’n regmatige staat, en die Staatsdienskommissie moet geprys word vir inisiëring van die bespreking. Sy voorstelle is egter slegs die koördinate vir ons voorkeurbestemming. Die onus is nou op die regering om die uitkomste van die konferensie te oorweeg en om te bewys dat dit getrou is aan sy eie NOP.

Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting

Foto: Public Service Commission


Leave a Reply

Your email address will not be published.