Grootliks danksy die insamelingspogings van voormalige President FW en mev Elita de Klerk, is die FW de Klerk Stigting – vir byna reeds ‘n dekade – in staat om steun aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies te bied. Hierdie bystand word verleen aan organisasies wat na kinders, gestremde en benadeelde jong mense omsien. Die Stigting ontvang geld op ‘n ad hoc-grondslag van verskeie (meestal internasionale) vennote, wat dan aan hierdie waardige organisasies versprei word. In hierdie geval is geld ingesamel tydens ‘n galadinee wat deur Migdal Ohr gereël is en waartydens President FW de Klerk aan ‘n dialoog deelgeneem het.
Die FW de Klerk Stigting het ‘n jare lange verhouding met die NID en ondersteun ander projekte soos die Nobel-ontspanningsplein in Worcester. Hierdie ten volle toegeruste buitelugontspanningsarea bied dowe jeug en kinders wat op die NID-kampus woon die geleentheid om aan ontspanningsaktiwiteite vir ontwikkeling deel te neem, in ‘n veilige en toeganklike omgewing. Die Plein sluit ‘n fiksheidsarea, ‘n ontspanningsarea en ‘n Amfiteater vir Dowe-kunste in.
Die Stigting hoop om steeds die NID te steun in hul pogings om te verseker dat dowe mense so veel as moontlik bemagtig word in alle fasette van ons samelewing en dat hulle in staat is om al die regte wat in die Grondwet gewaarborg word, uit te oefen.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
KYK nuusdekking