Soos mnr De Klerk in sy eie boodskap ter viering van Vryheidsdag op 27 April genoem het, is dit nie net die 20ste herdenking van ons eerste inklusiewe nie-rassige demokratiese verkiesing nie: dit is ook die datum waarop ons eerste nie-rassige en ten volle demokratiese Grondwet in werking getree het; en selfs meer belangrik, dit is die datum waarop alle Suid-Afrikaners fundamentele menseregte ontvang het – met inbegrip van die reg op waardigheid, gelykheid en nie-rassigheid.
Mnr De Klerk wil egter byvoeg dat hy nie alleen opgetree het nie: hy het die steun van byna 70% van wit Suid-Afrikaners gehad en is ten volle ondersteun deur sy kabinet en sy koukus. Hy het ook die steun gehad van die meerderheid van lede van die veiligheidsmag wat voortgegaan het om hul belangrike taak te verrig om vrede onder uiters moeilike omstandighede te handhaaf.
Soos die onlangse program van eNCA, “A Bloody Miracle“, op grafiese wyse uitgebeeld het, was daar elemente wat die onderhandelings op die laaste minuut wou ontwrig. Sodanige ontwikkeling sou katastrofies vir alle Suid-Afrikaners gewees het en sou Suid-Afrika in ’n burgeroorlog en verskriklike chaos en internasionale isolasie gedompel het. Ons moet almal dankbaar wees dat daar wyser raad geseëvier het en dat die meeste van diegene wat hierdie opsie oorweeg het, besluit het om eerder aan die verkiesing deel te neem.
Op sy beurt het mnr De Klerk nooit gehuiwer om die ANC-regering te loof vir die vordering wat dit gemaak het betreffende die verbetering van miljoene Suid-Afrikaners se lewens nie. Hy het ook op verskeie geleenthede sy mening duidelik gemaak dat Suid-Afrika vandag, met al sy uitdagings, ’n baie beter land is vir die groter meerderheid burgers van alle rasse as wat dit in die verlede was. Hy het weer sy mening bevestig dat ons Grondwet die belangrikste grondslag is vir die vordering wat ons gemaak het. Gevolglik kritiseer hy enige optrede uit enige oord – met inbegrip van die regering – wat die grondwetlike ooreenkomste en waardes waarop ons nuwe samelewing gegrond is, bedreig.
Hy stem ook saam met President Zuma dat voormalige President Nelson Mandela inderdaad ’n formidabele teenstander tydens die onderhandelings was. Dit is egter nie waar dat slegs die Nasionale Party en mnr De Klerk toegewings gemaak het ten einde ’n ooreenkoms te bereik nie. Soos die ANC in sy eie Strategie- en Taktiek-dokument erken, moes hy ook pynlike toegewings maak ten einde ons gesamentlike doelwit te bereik. Dit is die aard van enige moeilike onderhandelingsproses.
Dit was spesifiek die geval toe die ANC besluit het om terug te keer na die onderhandelingsproses in September 1992. Ons moet onthou dat die ANC teen die einde van Junie 1992 van die onderhandelings onttrek het en openlik gepoog het om mag te bekom op ’n wyse wat nie onderhandel is nie, deur middel van die sogenoemde “Leipzig-opsie” (gegrond op die Oos-Duitse voorbeeld waar betogings gelei het tot die val van die kommunistiese regime). Die party het egter teruggekeer na die onderhandelings en al die belangrikste ooreenkomste wat by KODESA bereik is, onderteken. Dit het die belangrikste toegewings ingesluit, naamlik dat
- Die finale Grondwet binne die raamwerk van grondwetlike beginsels opgestel sou word waarop al die minderheidspartye sou ooreenkom;
- Daar gedurende die tussentydse tydperk grondwetlike samehang sou heers;
- Daar ’n oorgangsregering van nasionale eenheid sou wees;
- Die tussentydse Grondwet voorsiening sou maak vir streeksregerings; en
- Daar regverdigbare fundamentele regte en vryhede sou wees.
Soos mnr De Klerk egter uitgewys het in sy boodskap op Vryheidsdag: “27 April het nie neergekom op die oorwinning van sommige Suid-Afrikaners bó ander nie. Dit was ’n wonderlike oorwinning vir ons almal. Op 27 April het ons almal – ongeag ons ras – baie meer regte en vryhede bekom as wat enige van ons voorheen geniet het.”
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA / Foter / Creative Commons Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0)