Hy het gevolglik by die Waarheid- en Versoeningskommissie se Komitee oor Amnestie vir hierdie misdade aansoek gedoen.
Die tussentydse Grondwet van 1993, wat die grondslag gelê het vir ons nuwe, nie-rassige demokrasie, verklaar in sy voorrede:
“Die aanvaarding van hierdie Grondwet lê die vaste fondament vir die mense van Suid-Afrika om die verdelings en tweespalt van die verlede, wat gelei het tot growwe skendings van menseregte, die verbreking van menslikheidsbeginsels tydens gewelddadige konflik en ’n nalatenskap van haat, vrees, skuld en wraak, te oorbrug.
“Die geleentheid is daar om dit nou reg te stel op die grondslag dat daar ’n behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie, ’n behoefte aan herstel en nie vergelding nie, ’n behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie.
“Ten einde dié versoening en herstrukturering te bevorder, moet amnestie verleen word met betrekking tot dade, versuime en misdrywe wat met politieke oogmerke in verband staan en wat in die loop van die konflikte van die verlede begaan is.”
Die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening, Wet 34 van 1995 het die grondslag gelê vir die toestaan van amnestie vir polities gemotiveerde misdade, mits:
- Die aansoek die vereistes van die Wet nakom;
- Die daad, versuim of misdryf waarop die aansoek betrekking het ’n daad is wat met ’n politieke oogmerk in verband staan en wat in die loop van die konflikte van die verlede begaan is …; en
- Die aansoeker al die tersaaklike feite ten volle geopenbaar het.
Ten opsigte van hierdie proses is amnestie aan De Kock toegestaan vir sommige van die misdade waarvan hy skuldig bevind is. Amnestie is egter geweier ten opsigte van ander misdade wat – volgens die Komitee oor Amnestie – nie aan die bogenoemde vereistes voldoen het nie – veral met betrekking tot die Wet se definisie van dade wat met ’n politieke oogmerk verband hou.
De Kock het byna 20 jaar in die gevangenes uitgedien vir die misdade waarvoor amnestie geweier is. Hy het van tyd tot tyd aansoek gedoen om parool, waarvan die mees onlangse aansoek verlede jaar ingedien is. Daar word verneem dat die Nasionale Raad vir Korrektiewe Dienste ’n positiewe aanbeveling aan die voormalige Minister van Korrektiewe Dienste, S’bu Ndebele, gemaak het. Ndebele het egter versuim om ’n besluit oor die aansoek te neem voordat hy vroeër vanjaar sy amp verlaat het. In Mei, nadat ’n aansoek deur De Kock se prokureurs ingedien is, het die Pretoriase Hoë Hof die nuwe Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Michael Masutha, beveel om binne 30 werksdae ’n besluit oor De Kock se aansoek te neem. Op 10 Julie het Minister Masutha aangekondig dat hy besluit het om nie De Kock se aansoek om parool goed te keur nie, aangesien “die betrokke familielede van die slagoffers” nie gedurende die paroolproses “geraadpleeg is nie”.
Minister Masutha het opdrag gegee dat De Kock se aansoek om parool oor 12 maande en ná oorlegpleging met die slagoffers se families heroorweeg moet word. De Kock se prokureurs sal egter waarskynlik die Minister se besluit in die howe sal uitdaag.
Kragtens artikel 9(1) van die Grondwet “is almal gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg”. Die Stigting is van mening dat dieselfde oorweging aan De Kock as enige ander gevangene in soortgelyke omstandighede behandel moet word – en dat behoorlike oorweging aan die aanbevelings van die Nasionale Raad van Korrektiewe Dienste geskenk moet word. Die owerhede moet ook die voorrede van die Grondwet van 1993 in ag neem waar dit verklaar dat aangeleenthede wat onstaan uit die konflikte van die verlede aangepak moet word op die grondslag dat daar ’n behoefte is aan begrip, maar nie aan wraaksug nie, ’n behoefte aan herstel, maar nie aan vergelding nie, ’n behoefte aan ubuntu, maar nie aan viktimisering nie.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
Photo credit: Wyoming_Jackrabbit / Foter /Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 2.0 Generic (CC BY-NC-SA 2.0)