Die aansoek het ook ten doel om die Adjunkpresident te dwing om ‘n kommissie van ondersoek aan te stel ingevolge sy magte wat in artikel 90(1) van die Grondwet aan hom toegeken is, in die geval waar die President “andersins nie in staat is om sy pligte uit te voer nie.” Hierdie kommissie moet bewerings van staatskaping en/of ‘n stille staatsgreep in Suid-Afrika ondersoek, en aan die Adjunkpresident verslag doen oor sy bevindings en aanbevelings. Die Regering van die Republiek van Suid-Afrika word ook versoek om die kommissie van ondersoek te voorsien van alle sodanige logistieke steun en hulpbronne soos wat die voorsitter van die kommissie redelikerwys mag versoek.

WAAROM RAAK ONS BY DIE LITIGASIE BETROKKE?

Die Stigting is verbind tot die handhawing van die Grondwet en sy waardes, met die Oppergesag van die Reg wat een sodanige grondliggende waarde is. Dit is belangrik dat die hoogste amp in die land die Grondwet nakom, aangesien die huidige skendings van die nasie se wette minagting vir die Oppergesag van die Reg tot gevolg het. In ‘n tyd waar graderingsagentskappe ongunstige aankondigings oor die land se beleggingsklimaat maak, is dit belangrik dat die Oppergesag van die Reg seëvier. Die onlangse aankondiging dat Suid-Afrika se ekonomie tegnies in ‘n resessie is, is ongetwyfeld gedeeltelik beïnvloed deur die skadu-staat wat deur staatskaping daargestel is, wie se bestaan die demokratiese Staat ondermyn.

Die Stigting is van mening dat die Uitvoerende Gesag en die Nasionale Vergadering versuim het om hul toesighoudende funksies uit te voer, vandaar die litigasie in die howe ten einde die greep van toenemende verval in regeringsbestuur te keer.

Die Grondwet verplig die Staat en sy hoof om die Grondwet te respekteer, beskerm en bevorder, terwyl die Howe ‘n plig het om uitspraak te gee oor alle optrede en wette wat ongrondwetlik is. Die kaping van die staat, waarvan alle Suid-Afrikaners getuies is, ondermyn diw wil van gewone Suid-Afrikaners. Dit is in teenstryd met die grondwetlike imperatief om die lewensgehalte van alle burgers te verbeter, en die potensiaal van elke persoon te ontsluit.

UITGEREIK DEUR DIE FW DE KLERK STIGTING
8 JUNIE 2017

Leave a Reply

Your email address will not be published.