Die FW de Klerk Stigting se Raad van Trustees het die FW de Klerk-welwillendheidstoekenning in 2010 ingestel ten einde erkenning te verleen aan individue of organisasies wat uitsonderlike bydrae gemaak het om welwillendheid tussen Suid-Afrikaners te bevorder. Vorige wenners sluit in dr Danny Jordaan (2011); Pieter-Dirk Uys (2012); Studietrust (2013) en Patrice Motsepe (2014).

Die Raad het besluit om die toekenning vir 2015 aan Afrika Tikkun toe te ken ter erkenning van sy wye reeks programme wat kwesbare kinders en die jeug in Suid-Afrikaanse townships bemagtig. Afrika Tikkun se ‘wieg-tot-loopbaan’-model belê in die ontwikkeling van benadeelde kinders vanaf ’n vroeë ouderdom, regdeur jong volwassenheid en tot in die wêreld van werk. Die organisasie bied onderwys-, gesondheids-  en maatskaplike dienste aan kinders, die jeug en hul families deur sy Sentrums van Uitnemendheid in gemeenskappe in Gauteng en die Wes-Kaap.

Tydens 2014 het Afrika Tikkun ’n positiewe uitwerking gehad op die lewens van 19 621 jong kinders regoor Suid-Afrika. Sy aktiwiteite sluit in die voorsiening van primêre gesondheidsorg, die skepping van 600 werksgeleenthede en die voorsiening van 50 000 maaltye aan die jeug en hul families.

Afrika Tikkun het die lewens en vooruitsigte van tienduisende jong mense wesenlik verbeter. Sodoende het dit ook ’n enorme bron van welwillendheid tussen Suid-Afrikaners van ons verskillende gemeenskappe ontwikkel.

Die FW de Klerk-welwillendheidstoekenning sal op 2 Februarie 2015 deur FW de Klerk aan Marc Lubner, Hoof Uitvoerende Beampte van Afrika Tikkun, toegeken word tydens die Stigting se jaarlikse Galadinee in Kaapstad.

Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting


Leave a Reply

Your email address will not be published.