Ek het baie van die vorige Spitsberade bygewoon en het altyd uitgesien na die dag dat Suid-Afrika hierdie gesogte geleentheid sou kon aanbied.
Dit is omdat ek geglo het dat ons as Suid-Afrikaners ’n baie spesiale bydrae tot die internasionale debat oor die vreedsame oplossing van konflikte sou kon maak. Wat ons tussen 1990 en 1996 in Suid-Afrika behaal het is moontlik een van die beste voorbeelde van die visie wat Alfred Nobel in gedagte gehad het toe hy die prys meer as ’n eeu gelede ingestel het.
Ons as Suid-Afrikaners het die wêreld gewys dat selfs die mees hardnekkige geskille vreedsaam deur onderhandelings, kompromieë en welwillendheid opgelos kan word.
Ons wou hierdie ervaring met die wêreld en ons mede-Nobelvredespryswenners in Kaapstad deel – in die stad waarin so baie van die gewigte gebeure plaasgevind het wat tydens die transformasie van ons samelewing afgespeel het. Ons wou ook hierdie Spitsberaad toewy aan die nagedagtenis van Nelson Mandela – ’n man wat moontlik een van die mees inspirerende voorbeelde is van die ware gees van die Nobelvredesprys.
Nou sal dit nie kan gebeur nie – eerstens omdat ons regering weer eens geweier het om ’n visum aan die Dalai Lama toe te staan – en, tweedens, omdat die Nobelvredespryswenners besluit het om die Spitsberaad te boikot weens die weiering om die visum uit te reik.
Ek kan die reaksie van die Nobelvredespryswenners verstaan, maar desnieteenstaande is ek daarvan oortuig dat dit nie die mees gepaste reaksie op die weiering van die visum is nie.
Op 23 September het ek en Aartsbiskop Tutu, saam met die Nelson Mandela- en Albert Luthuli-stigtings, aan Nobelvredespryswenners geskryf waarin daar ’n beroep op hulle gedoen is om nie die Spitsberaad in Kaapstad te boikot nie. Ons het daarop gewys dat hulle sodoende juis aan die Suid-Afrikaanse regering sou gee wat hulle wou hê. Die regering wou nie hê dat die Spitsberaad in Suid-Afrika gehou word nie – omdat dit bekommerd was oor die kritiek wat deelnemers onvermydelik sou uitspreek oor die weiering van ’n visum aan die Dalai Lama.
Ons het hulle gevra om na Kaapstad te kom om hul solidariteit te betoon met die dapper grondwetlike onderneming wat ons as Suid-Afrikaners 20 jaar gelede met soveel hoop van stapel gestuur het. Ons het daarop gewys dat hul teenwoordigheid in Kaapstad die grootste eer sou wees wat hulle aan die nagedagtenis van Nelson Mandela sou kon betoon.
Ons is teleurgesteld dat hulle nie op ons beroep ag geslaan het nie, veral aangesien die meeste van hulle voorheen saamgestem het dat die beste reaksie op die weiering van die visum sou wees om na Kaapstad te kom en hier in Suid-Afrika daarteen beswaar te maak voor al ons mense en die internasionale media. Hulle besluit, op die laaste oomblik, om van besluit te verander sal onvermydelik lei tot verkwistende uitgawes vir baie mense wat reeds reëlings getref het om na Kaapstad te kom. Onder hulle is meer as 150 internasionale studente wat vir maande gespaar het om die Spitsberaad by te woon.
Desnieteenstaande is die Suid-Afrikaanse regering verantwoordelik vir die uitstel van die Spitsberaad.
Ons buitelandse beleid is veronderstel om die waardes in ons Grondwet te weerspieël. Die weiering van ’n visum aan die Dalai Lama is die teenoorgestelde van daardie waardes.
Dit sê baie oor wat van ons regering geword het. Ná 1994 is Suid-Afrika gesien as ’n baken van hoop gesien vir ’n wêreld wat op soek was na geregtigheid, versoening, integriteit en regeringsbestuur met beginsels. Alhoewel ons altyd politieke teenstanders was het ek die grootste respek vir President Mandela en President Mbeki gehad. Onder hul leierskap kon Suid-Afrikaners hul koppe om hoog hou in die internasionale gemeenskap.
Dit is ongelukkig nie meer die geval nie. Met die bestendige afname sedert 2008 kan die uitstel van die Spitsberaad in Kaapstad deur toekomstige historici beskou word as die punt waarop Suid-Afrika uiteindelik sy aanspraak om iets spesiaals in Afrika te verteenwoordig en op iets eerbaar in die internasionale gemeenskap verloor het.
Meer as enige iets anders het ons die Nobelvredespryswenners nodig gehad – as sommige van die bekendste morele leiers in die internasionale gemeenskap – om na Kaapstad te kom om hul steun toe te sê aan die waardes waartoe ons ons verbind het toe ons nuwe samelewing tot stand gekom het. Die regering se weiering van ’n visum aan die Dalai Lama, die nalatenskap van Marikana en die daaglikse berigte oor ongure dade van ons leiers en ons Parlement is alles kommerwekkende tekens van die versnelde erodering van daardie waardes.
Op hierdie tydstip in ons geskiedenis sal dit gepas wees vir alle Suid-Afrikaners om diep in die spieël te kyk en om te sien in watter samelewing ons ontaard het.
Ek wil ook ’n spesiale woord van dank betuig met die Burgemeester en haar span – en aan die Permanente Sekretariaat van die Wêreldspitsberade van Nobelvredespryswenners – vir hul onvermoeide pogings om die Spitsberaad in Kaapstad te reël. Ek het geen twyfel dat dit ’n reuse sukses sou gewees het nie.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
2 Oktober 2014