Dit erken ook as fundamentele waarde die reg op menswaardigheid wat onlosmaaklik deel is van die kulturele, taal- en godsdienstige identiteite van burgers. Dit vestig die gelykheid van al ons gemeenskappe en verbied onregverdige diskriminasie deur enige iemand inter alia op grond van taal, ras of kultuur.
Min is egter oor van hierdie multikulturele grondwetlike visie:
- Engels is vir alle praktiese doeleindes die enkele de facto amptelike taal van die land.
- Min of niks het tot dusver gekom van die Use of Official Languages Act wat in 2012 op aandrang van die howe aanvaar is nie. Die Wet vereis van alle staatsdepartemente en instellings om taalbeleide te aanvaar wat uitvoering sal gee aan die taalvereistes in die Grondwet – maar min of niks het in praktyk gebeur nie.
- Die reg op onderrig in die taal of tale van jou keuse in openbare staatsinstellings word oral ondermyn. Die paar universiteite wat nog onderrig in Afrikaans op voorgraadse vlak bied verkeer onder enorme druk om hul aanbieding van Engelse onderrig te verhoog – ten spyte van die feit dat Engels in 22 van ons 26 universiteite die enigste taal van onderrig is.
- Enkelmedium Afrikaanse skole verkeer ook onder toenemende druk om klasse in Engels aan te bied. Dit ten spyte van die feit dat ‘n meerderheid van Afrikaanse sprekers nie wit is nie en dat Afrikaanse enkelmediumskole kinders op ‘n grondslag toelaat wat nie op ras gebaseer is nie. Parallelmedium-onderrig is selde ‘n lewensvatbare opsie op die langtermyn. Ervaring in Suid-Afrika en regoor die wêreld wys dat wanneer ‘n streekstaal gedwing word om met ‘n wêreldtaal soos Engels mee te ding, die streekstaal uiteindelik oorskadu word en verdwyn.
- Min of niks is gedoen om Suid-Afrika se inheemse tale te bevorder nie – veral nie op universiteitsvlak nie.
- Die regering se voorneme is om demografiese verteenwoordiging regdeur die samelewing in te stel, met die onvermydelike gevolg dat minderhede op feitlik elke aspek van hul lewens ontmagtig sal wees. Dit is veral die geval by universiteite soos die UK, Stellenbosch en die NWU, waar minderheidstradisies en kulture afgetakel word en eise gestel word vir die versnelde instelling van die meerderheidskultuur en houdings in die kurrikulum en etos van die betrokke universiteite.
- Die President – ministers van die staat – val dikwels die erfenis en geskiedenis van minderheidsgemeenskappe aan. President Zuma het onlangs al die probleme van die land blameer op die aankoms in Suid-Afrika van Jan van Riebeeck. Standbeelde van geskiedkundige leiers van minderheidsgemeenskappe word geskend met verf en ontlasing. Wit Suid-Afrikaners word toenemend na verwys as ‘kolonialiste’ – asof hulle uitlanders in hul eie land is.
Die probleem is dat wat aangeleenthede betref wat verband hou met kultuur, taal en erfenis, die ANC gelei word deur die beginsels van die Nasionale Demokratiese Revolusie – en nie deur die Grondwet nie. Volgens die ANC is verhoudings tussen Suid-Afrika se gemeenskappe deel van wat dit na verwys as ‘die Nasionale Vraagstuk’. In ‘n beleidsdokument van 2005, let die ANC daarop dat die nasionale vraagstuk regoor die wêreld nog glad nie opgelos is nie, en op ‘n ondenkbaar barbaarse wyse opduik.
Dit wys voorts daarop dat “die les vir Suid-Afrika is dat ons nie die nasionale vraagstuk in ons eie land durf ignoreer nie.” Dit som dan sy eie posisie op: “In die Suid-Afrikaanse konteks hou die nasionale vraagstuk in beginsel nie verband met die regte van minderhede of etnies gemotiveerde griewe nie (hierdie stelling het nie ten doel om afbreek te doen aan die belangrikheid van die regte van minderhede nie). Dit hou in werklikheid verband met die bevryding van die Afrikane.”
Elders verklaar die ANC dat, ter oorweging van die “identiteit van die Suid-Afrikaanse nasie-in-wording” … “is wat vereis word ‘n voortgesette stryd om Afrika-hegemonie in die konteks van ‘n multikulturele en nie-rassige samelewing te vestig.” Die ANC dring daarop aan dat die “bevestiging van Afrika-skap as ‘n nasie niks te doen het met die oorheersing van een kultuur of taal deur ‘n ander nie – dit is die erkenning van ‘n geografiese werklikheid en die ontwaking van ‘n bewussyn waarin kolonialisme onderdruk word”. Hegemonie het slegs een betekenis: dit beteken oorheersing – en dit is onversoenbaar met die idee van eenheid in diversiteit en die beginsels van gelykheid en menswaardigheid waarop die Grondwet gebaseer is.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
ERFENISDAG