Die President het ‘n grondwetlike plig om kabinetsministers aan te stel en af te dank. Sy besluit om Minister Nene af te dank en ‘n onervare en feitlik onbekende agterbanker, David van Rooyen, in sy plek aan te stel, is rede tot groot kommer.
Tensy mnr Van Rooyen onverwagte moed en onafhanklikheid toon, sal Minister Nene se ontslag heel moontlik die weg baan tot verdere verkwistende en onbekostigbare staatsbesteding. Dit sal ongetwyfeld, vroeër of later, lei tot ‘n verdere afgradering deur internasionale graderingsagentskappe tot rommelstatus. Dit sal weer lei tot die skerp styging van buitelandse leenkoste vir beide die regering en die privaatsektor. Dit sal voorts lei tot verdere vermindering in buitelandse beleggings en sal baie buitelandse beleggers dwing om verbande te verkoop omdat hulle nie meer aan die streng maatstawwe betreffende beleggings kan voldoen nie. Dit sal aanleiding gee tot die uitvloei van korttermyn kapitaal, waarvan Suid-Afrika afhanklik is om sy reeds haglike betalingsbalans te handhaaf.
Die ekonomiese krisis wat moontlik sal volg sal verdere druk plaas op die geskeurde sosiale weefsel van ‘n nasie, wat reeds worstel met onaanvaarbare vlakke van armoede, werkloosheid en burgerlike onrus.
Die President se optrede dui op ‘n wilde roekeloosheid wat sy benadering tot die ekonomie en staatsadministrasie betref, wat onversoenbaar is met die ampseed wat hy afgelê het om alles te bevorder wat die Republiek sal bevorder, om alles teen te staan wat dit skade kan berokken, en om homself toe te wy tot die welstand van die Republiek en al sy mense.
Die President se rekord om lojale kaders, wat gewillig is om sy persoonlike agenda te bevorder eerder as om hul pligte met onafhanklikheid, eerlikheid en toegewydheid tot die openbare belang uit te voer, in belangrike staatsposisies aan te stel, is selfs groter rede tot kommer.
Dit is ironies dat die President sy aankondiging oor Minister Nene se afdanking op die Internasionale Dag teen Korrupsie gemaak het.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA via Foter.com / CC BY-ND
DIE ONTSLAG VAN MINISTER NHLANHLA NENE