Dit is duidelik dat hulle nou beheer wil neem van die Ministerie van Finansies en die Tesourie, wat hulle beskou as van die laaste hindernisse in hul pad na die onbelemmerde strewe na hul persoonlike en politieke doelwitte.
Onder hierdie regime is die sluise van korrupsie wyd oopgemaak. Sakemanne wat met die regerende groep verbind word, met inbegrip van die Gupta-familie, het volgens verskeie geloofwaardige bronne aansienlike invloed betreffende die finansiële besluite van die staat – en selfs in die aanstelling van belangrike kabinetsministers – bekom.
Soos met die ontslag van minister Nene verlede jaar – en soos wat ons nou sien met die vendetta van die Valke teen minister Pravin Gordhan – stoot hierdie ontwikkelinge Suid-Afrika nader aan ‘n katastrofiese afgradering deur die graderingsagentskappe.
Ek doen ‘n beroep op die vele ordentlike lede en leiers van die ANC om op te staan vir die beginsels waarop hul beweging gegrond is en om die leiding te neem om ‘n einde te maak aan “staatskaping” en om ‘n stelsel van grondwetlike regering te herstel wat oop, verantwoordbaar en responsief is. Ek doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om duidelik nee te sê vir pogings deur President Zuma en sy ondersteuners om ons grondwetlike demokrasie te ondermyn.
Kommentaar deur voormalige President FW de Klerk
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting