Voorvalle van hierdie aard is onversoenbaar met die grondwetlike waardes van menswaardigheid, nie-rassigheid en nie-seksisme, en skend duidelik die reg op waardigheid en vryheid van die persoon. Dit is ’n vlieg in die salf vir alles waarvoor ons Handves van Regte staan.
Hierdie voorval moet saam met ’n onlangse vlaag van rasgemotiveerde aanvalle in en om Kaapstad oorweeg word. Afgesien van die ooglopende fisiese en sielkundige skade wat sodanige voorvalle die slagoffers berokken, ondermyn dit die goeie verhoudinge tussen gemeenskappe in ons diverse multikulturele samelewing. Dit moet gevolglik deur alle Suid-Afrikaners veroordeel word.
Die aangemelde voorval is ook ’n skokkende voorbeeld van geslagsgeweld. Dit is presies die soort optrede waarteen die samelewing mobiliseer tydens die huidige veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders. Die doelwit van die veldtog is om bewusmaking te skep oor die voorkoms van geweld teen vroue, wat een van die mees wydverspreide skendings van menseregte in ons samelewing is.
Ras- en geslagsgebaseerde aanvalle is ’n belediging vir die mees basiese regte van die slagoffers – met inbegrip van hul reg om vry te wees van alle vorme van geweld. Die Grondwet voorsien Suid-Afrika van ’n plan vir maatskaplike samehorigheid, waarin die regte en vryhede van alle mense wat in Suid-Afrika woon, beskerm word. Sodanige regte sluit in die reg op liggaamlike en sielkundige integriteit, wat die reg op sekerheid van en beheer oor jou liggaam behels.
Sodanige aanvalle kom neer op een van die mees ekstreme vorme van rasse- en geslagsdiskriminasie en is ’n ernstige skending van die belangrike reg op menswaardigheid. Artikel 10 van die Grondwet bepaal dat almal oor inherente waardigheid beskik en die reg het dat hul waardigheid gerespekteer en beskerm word. Hierdie reg is so belangrik dat dit een van die min nie-aantasbare regte in die Handves van Regte is. Dit beteken dat die reg op menswaardigheid onder geen omstandighede ondermyn mag word nie.
Die aanhef van ons Grondwet stel ’n samelewing in die vooruitsig wat verenig is in sy diversiteit. Dit doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om die verdeeldheid van die verlede te heel en om ’n verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou. Optrede wat hierdie fundamentele regte skend en wat die belangrike waardes wat in die Grondwet verskans word, ontken, moet glad nie geduld word nie.
Die gereg moet nou sy gang gaan in hierdie saak en moet al die omstandighede rondom die beweerde aanranding vas stel. Ons regstelsel moet egter sodoende ’n duidelike boodskap stuur dat ras- en geslagsgebaseerde geweld nie geduld sal word nie – wie ook al die oortreders mag wees.
Uitgereik Deur Die Fw De Klerk Stigting
Foto: darkroom productions / Foter /Creative Commons Attribution-NonCommercial 2.0 Generic (CC BY-NC 2.0)
Vir kommentaar:
Dave Steward: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
E-pos: dsteward@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622
Adv Johan Kruger: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
E-pos: tjkruger@cfcr.org.za
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622
Navrae:
Megan Dick: Kommunikasiebeampte, FW de Klerk Stigting
E-pos: megan@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622