Sy eerste groot bydrae was na my mening sy besluit in 1985 – sonder sanksie van die ANC se hoofkwartier in Lusaka – om ‘n lyn van kommunikasie met die Nasionale Party-regering daar te stel. Hy het, amper voor enige iemand anders, besef dat Suid-Afrika se groot probleme slegs deur onderhandeling opgelos kon word en dat die voortgesette konflik die land en die ekonomie sou verwoes tot enorme skade vir al die mense van Suid-Afrika.
Sy tweede groot bydrae was die manier waarop hy die ANC gelei het tydens die onderhandeling oor ‘n nuwe grondwet. Hy was in staat om sy ondersteuners bymekaar te hou deur al die krisisse wat die land in die onstuimige jare geteister het. By verskeie kritieke geleenthede het ek en hy bymekaargekom om kritieke probleme op te los. In September 1992 het hy die ANC teruggestuur na die onderhandelingstafel en gehelp om die proses tot sy natuurlike gevolg te lei met die eerste universele demokratiese verkiesings in 1994 en die aanvaarding van ons finale grondwet in 1996.
Sy grootste bydrae het na sy inhuldiging as President in Mei 1994 plaasgevind deur die manier waarop hy onvermoeid gewerk het om die verdelings van die verlede te herstel, nasionale versoening te bevorder en die grondslag te lê vir wat aartsbiskop Tutu die ‘Reënboognasie van God’ genoem het.
Nou, vyf jaar na sy dood en 24 jaar na die beslag van die nie-rassige grondwetlike demokrasie waaraan hy sy lewe toegewy het, word ‘n groot deel van sy nalatenskap bedreig:
- Tussen 2009 en 2017 het elemente in die regerende elite belangrike staatsinstellings en ondernemings in staatsbesit gekaap met die oog op die ondermyning van die Grondwet en onbelemmerde selfverryking.
- In 2012 het die ANC, met die bekendstelling van die radikale tweede fase van sy Nasionale Demokratiese Revolusie, besluit om progressief ontslae te raak van belangrike bepalings wat deur nie-ANC-partye in die Grondwet onderhandel is. Hierdie bepalings het die kulturele en taalregte van Suid-Afrika se minderhede ingesluit; hul beskerming teen onregverdige diskriminasie en hul eiendomsregte.
- Gedurende die afgelope paar jaar het die ANC so te sê afgesien van Nelson Mandela se groot projek van nasionale versoening, en is eerder besig om die verdelings tussen ons gemeenskappe te verdiep.
Die 100ste herdenking van Nelson Mandela se geboorte bied aan alle Suid-Afrikaners die geleentheid om hul verbintenis tot die visie wat hom geïnspireer het, en die grondliggende waardes wat in ons Grondwet verwoord word, te hernu. Ons moet almal saamwerk om te verseker – soos hy duidelik tydens sy presidensiële inhuldiging verklaar het – dat “[dit] nooit, nooit en nooit weer sal wees dat hierdie pragtige land weer die onderdrukking van die een deur die ander sal ervaar nie”.
Verklaring deur voormalige President FW de Klerk
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
17 Julie 2018