Die land het ‘n lang pad gekom juis danksy die oorvloed van etiese en verantwoordbare leierskap, in die vorm van Nelson Mandela en ook FW de Klerk, wat mag en reputasie op die spel geplaas het om die land eerste te stel met die aanbreek van demokrasie. Soos FW de Klerk gesê het: “Ek het ‘n integrale rol gespeel met die formulering van daardie nuwe visie…dat ons van apartheid moet afsien en een verenigde Suid-Afrika moet aanvaar met gelyke regte vir almal, met alle vorms van diskriminasie wat uit die wetteboeke geskrap moet word”. Hierdie kragtige woorde getuig van ‘n man wat die belang en mag wat saam met die magtigste amp in die land gekom het, opgeoffer het om ‘n demokratiese toekoms te bewerkstellig wat deur die Grondwet en die Handves van Regte gelei word.
Die vrees wat ons die hoof moet bied is of hierdie pogings in die wiele gery is in die belang van wat so ryklik beskryf is deur die vorige Openbare Beskermer in haar State of Capture-verslag.
Die Konstitusionele Hof, in President of the Republic of South Africa and Others v South African Rugby Football Union and Others, het verklaar dat “die President ter goeder trou moet optree en nie die aard van sy of haar magte verkeerd moet interpreteer nie”.
Dieselfde beslissing het voorts verklaar dat “wanneer die uitvoering van presidensiële magte oorweeg word, daar geen twyfel kan wees dat dit toepaslik en wenslik vir die President is om met Ministers en raadgewers oorleg te pleeg en hul advies in te win nie.”
Hieruit is dit duidelik dat die uitvoering van staatsmag, met inbegrip van dié van die President as hoof van die uitvoerende gesag, nie sonder beperkings is nie. Dit word altyd beperk deur die Grondwet en die Oppergesag van die Reg. Dit vereis dat die President, ter alle tye – met inbegrip van die aanstelling van die Kabinet en Adjunkministers – rasioneel optree wanneer sodanige besluit geneem word. Die besluit oor wie om aan te stel is steeds ‘n presidensiële prerogatief, maar dit beteken egter nie dat daar onbelemmerde mag is wanneer sodanige aanstellings gemaak word nie. Dit beteken dat die besluit rasioneel verbind moet word met die doel waarvoor die mag toegeken is. Dit beteken dat alle tersaaklike inligting wat die besluit inlig, oorweeg moet word. Om net een voorbeeld te gebruik – die feit dat Minister Bathabile Dlamini nog in haar pos is as Minister van Maatskaplike Ontwikkeling – selfs na die Konstitusionele Hof se mening dat sy haar grondwetlike pligte versuim het in die SASSA-debakel. Is dit rasioneel?
Oorweeg die President se ander besluite – die onlangse afdanking van drie van die mees senior lede van die Regterlike Dienskommissie, te same met die opmerking dat “regters met ‘n progressiewe filosofie en wie regterlike aktivisme bevorder om uitvoering te gee aan maatskaplike transformasie, op die Regbank aangestel moet word.” Dui dit op die voorneme om die vlerke van die Regbank, wat in die verlede ongrondwetlike wette en optrede deur die Staat geskrap en verbied het, te knip?
Die gevolge van ‘n finansiële bestuurstelsel wat ernstig in gedrang gebring is, het ‘n groot uitwerking op die markte gehad vanoggend. Hierdie krisis is groter as net die afdanking van die Minister van Finansies – ‘n leier wat nie aanspreeklik is nie dui op ‘n ernstiger krisis van staatsbestuur in Suid-Afrika. Hoeveel meer skade kan een persoon, met die ondersteuning van net ‘n paar, nog aan die nasie doen?
Volgens die Grondwet, is ‘n eenvoudige meerderheidstem al wat nodig is, wanneer die Nasionale Vergadering vertroue in die President, Kabinet en Adjunkministers verloor het, vir eersgenoemde om te bedank. Dit is tyd dat die Nasionale Vergadering die welvaart, ekonomiese welstand, die plig van nasie bou en die belangrike dividende van demokrasie – wat so deur alle Suid-Afrikaners waardeer word – bo die President se selfsugtige persoonlike belange plaas.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
Foto: GovernmentZA via Foter.com / CC BY-ND