Die Sentrum het kommer uitgespreek oor die verbod op “’n databoodskap wat skadelik is” ten opsigte van die reg op vryheid van uitdrukking. Nie net steun die klousule op onbepaalde terminologie in gevalle wanneer databoodskappe as “skadelik” beskou sal word nie, maar dit versuim ook om enige statutêre verdediging voor te skryf. Hierdie klousule val nie binne die verbode uitdrukkingsvorme wat in die Grondwet uiteengesit is nie en skend moontlik die reg op vryheid van uitdrukking soos deur die Grondwet in die vooruitsig gestel is.
Die Wetsontwerp bepaal ook dat die onderskepping van data, wat kragtens die Regulation of Interception of Communications and Provision of Communication-Related Information Act of 2002 (RICA), “indirekte kommunikasie” is, die prosedure moet volg soos in RICA uiteengesit is. Die spesifieke prosedure in RICA is egter tans die onderwerp in ‘n uitdaging voor die Konstitusionele Hof, weens die uitwerking op die reg op privaatheid en toegang tot die howe. Die Wetsontwerp verbied spesifiek elektroniese kommunikasiediensverskaffers om enige inligting, met inbegrip van inligting van ‘n onderskeppingsbevel na afloop van ‘n ondersoek, aan hul kliënte of die publiek bekend te maak. Dit bedreig die reg op toegang tot die howe, aangesien die wettigheid van die onderskeppingsbevel nie hersien kan word nie. Voorts is dit ook moontlik vir die “deel van inligting” van hierdie inligting tussen verskeie nuwe regeringstrukture om kubersekuriteit aan te pak, wat die reg op privaatheid ernstig skend.
Vir ‘n meer gedetaileerde analise van die Wetsontwerp, sien asb die volledige teks van die voorleggings.
Uitgereik deur die Sentrum vir Grondwetlike Regte
14 Augustus 2017