Hy het ‘n leidende rol gespeel in Suid-Afrika se verhouding met Suidwes-Afrika / Namibië.Eerstens, as ‘n lid van Suid-Afrika se regspan in die Internasionale Hof van Justisie in die positiewe uitspraak in 1966 en gevolglik, tussen 1974 en 1989, in Suid-Afrika se uitgerekte onderhandelings met die Westerse kontakgroep en die Verenigde Nasies oor die onafhanklikheid van Namibië. In 1988 het hy die drieparty-ooreenkoms met Angola en Kuba gesluit oor die onttrekking van Kubaanse troepe uit Angola en die implementering van die VN se onafhanklikheidsproses in Namibië. Die ooreenkoms was van kardinale belang vir die evolusie van die politieke situasie in Suid-Afrika.

In intensiewe gesprekke wat gedurende die 1980s binne die NP-leierskap plaasgevind het, was Pik Botha ‘n prominente en konsekwente voorstander van hervorming, grondwetlike onderhandelinge en die vrylating van Nelson Mandela uit die tronk. Hy het president PW Botha se hervormingsmaatreëls ondersteun en was daarna een van die sterkste voorstanders van die grondwetlike transformasieproses wat ons op 2 Februarie 1990 begin het. Hy het in die daaropvolgende onderhandelinge ‘n konstruktiewe rol gespeel en na die 1994-verkiesing gedien as ‘n NP-minister in die Regering van Nasionale Eenheid.

Sy kleurvolle styl en reguit retoriek het hom wydverspreide gewildheid onder die wit kiesers besorg en hom in 1978 en 1989 aangemoedig om as kandidaat vir die leierskap van die Nasionale Party te staan.

Een van sy mees belangrikste bydrae was sekerlik die wyse waarop hy en sy kollegas in die Departement van Buitelandse Sake sterk gestaan het teen toenemende internasionale druk totdat internasionale kommunisme in 1989 ineengestort het en die weg gebaan het na die onderhandelings wat tot die daarstelling van ons nie-rassige grondwetlike demokrasie gelei het.

Hy was ‘n unieke en kleurvolle persoonlikheid wat ‘n enorme bydrae gemaak het tot die vreedsame en grondwetlike oplossing van die groot historiese uitdagings wat hy voor 1994 die hoof moes bied.

Hy was vir baie jare ‘n gewaardeerde kollega en vriend. My vrou, Elita, en ek wil ons medelye betuig met Ina en sy familie.

Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting namens voormalige President FW de Klerk
12 Oktober 2018

Foto: News24

Leave a Reply

Your email address will not be published.