Die reg om ‘n taal van onderrig te kies kragtens artikel 29(2) van die Grondwet berus by alle huidige en potensiële studente van die UP. Dit sluit in, maar is nie beperk tot, Afrikaanssprekende studente. Daardie studente wat kies om in Engels onderrig te word, oefen ook daardie reg uit. In die bepaling van ‘n nuwe taalbeleid moes die UP verseker het dat sy beleid die toets van grondwetlikheid sal slaag, soos in artikel 6 en artikel 29(2) voorgeskryf is.

Die enigste voorwaarde vir die grondwetlike reg in artikel 29(2) is dat dit redelikerwys uitvoerbaar moet wees. In die geval van die UP is dit bewys dat dit redelikerwys uitvoerbaar is om Afrikaans en Engels sedert ten minste die aanvang van demokrasie in 1994 aan te bied. Die feit dat daar nou politieke en ideologiese redes is om die taal na Engels te verander, maak nie die gebruik van Afrikaans onredelik of redelikerwys onuitvoerbaar nie. So ook nie die feit (soos die Vise-kanselier op wys in haar brief aan personeel) dat die gedeelte van studente wat Afrikaans as voorkeur het, “skerp afgeneem” het na 18% nie. Selfs indien hierdie getal net so aanvaar word, verteenwoordig dit steeds duisende studente wat sal verkies om in Afrikaans onderrig te word.

Met betrekking tot die besluit of onderrig in Afrikaans redelikerwys uitvoerbaar is, kan finansiële implikasies ‘n rol speel. Dit word egter nie as argument deur die Universiteit aangevoer nie. Voorts moet die vraag ook gevra word oor wanneer dit verander het, en om watter rede.

Dit is duidelik dat die UP nie die grondwetlike noodsaaklikhede en die ministeriële taalbeleid ernstig genoeg opgeneem het toe die nuwe taalbeleid oorweeg is nie. Dit is duidelik dat ander redes groter gewig gedra het, soos druk deur politieke groepe. In hierdie verband veronderstel die ideologiese narratief dat Engels die enigste taal van administrasie en onderrig moet wees, met slegs oorgangsreëlings vir studente wat Afrikaans gekies het, dat Afrikaans as ‘n amptelike taal ‘n beperkte (en kort) lewe by die UP en in Suid-Afrika het. Dit is duidelik teenstrydig met die bepalings van artikel 6 en artikel 29(2) van die Grondwet.

Ons beskou die inwerkingstelling van die regte van diegene wat ‘n spesifieke taal as hul grondwetlike reg gekies het, as steeds “redelikerwys uitvoerbaar” by die UP. Indien die universiteit se totale begroting in ag geneem word, sal die bedrag wat aan veeltaligheid bestee sou word, minder wees as die internasionale norm van 3% ‐ 5%. Veeltaligheid moet beskou word as ‘n bate en regverdig dus voldoende bronne.

Teen hierdie agtergrond is dit moeilik om die Raad se vrome onderneming om “Afrikaans as taal van geleerdheid te handhaaf”, te verstaan. Indien Afrikaans nie meer as medium van onderrig en assessering gebruik word nie, hoe sal dit in staat wees om ‘n taal van geleerdheid te bly?

Uitgereik deur dr Theuns Eloff, Voorsitter
Namens die FW de Klerk Stigting

Leave a Reply

Your email address will not be published.