“Dit is ‘n raamwerk wat bestaan uit reëls, wette, ooreenkomste en konvensies – ‘n raamwerk wat meganismes verskaf vir die vreedsame oplossing van die onvermydelike botsings van belange tussen lande, gemeenskappe, partye en individue. Dit is ‘n raamwerk waarbinne die onweerstaanbare en dinamiese prosesse van sosiale, ekonomiese en politieke ontwikkeling gereguleer en geakkommodeer kan word. ”
Ek het bygevoeg dat:
- “Vrede nie goed vaar waar armoede en ontbering heers nie.
- Dit floreer nie waar onkunde en ‘n gebrek aan opvoeding en inligting bestaan nie.
- Onderdrukking, ongeregtigheid en uitbuiting kan nie met vrede versoen word nie.
- Vrede word ernstig bedreig deur vrees en en afguns in groepe en deur die skep van onrealistiese verwagtinge.
- Onverdraagsaamheid en vooroordeel betreffende ras, klas en godsdiens is groot vyande.”
Die oomblik toe ek en mnr Mandela die Nobelvredesprys ontvang het, het onderhandelaars van al ons politieke partye die laaste skaafwerk gedoen aan ‘n tussentydse Grondwet wat die grondslag daargestel het vir ons nie-rassige grondwetlike demokrasie. Die tussentydse Grondwet het onveranderlike beginsels ingesluit wat in 1996 in die grondliggende bepalings van artikel 1 van ons finale Grondwet vervat is.
Daardie beginsels sluit in:
Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid, die bevordering van menseregte en vryhede; nie-rassigheid, nie-seksisme, die oppergesag van die Grondwet en die Reg en ‘n stelsel van demokratiese regering wat verantwoordbaar, responsief en oop is.
Hoe het ons sedertdien gevaar?
- Alle Suid-Afrikaners geniet nou die menswaardigheid wat ons Grondwet bepaal, maar wat beteken menswaardigheid in omstandighede waarin 40% van ons mense in armoede en werkloosheid leef?
- Ons het geen vordering gemaak met die bereiking van gelykheid nie. Ons is die mees ongelyke land in die wêreld – en het sedert 1994 meer ongelyk geword.
- Die menseregte en vryhede van ons mense word nou beskerm deur ons Handves van Regte. Die howe het hierdie regte en vryhede bekragtig – maar ons het ‘n lang pad om te gaan voordat hulle almal in die praktyk geniet word. In die besonder is die taal-, kulturele en nie-diskriminasie regte wat sentrale elemente in die Handves van Regte is, onder geweldige druk.
- Ongelukkig kan Suid-Afrika nie meer ‘n nie-rassige land genoem word nie. Ons word vinnig weer, ‘n samelewing waarin ras en nie verdienste die belangrikste determinant van sukses is nie.
- Ons het aansienlike vordering gemaak met die bevordering van geslagsgelykheid, maar te veel vroue is steeds onderworpe aan geslagsgeweld en meer as die helfte van ons vroue moet hul gesinne sonder die hulp van ‘n man grootmaak.
- Ons het onafhanklike howe wat die Grondwet en die Oppergesag van die Reg streng handhaaf – en dit het ‘n belangrike rol gespeel in die bekamping van korrupsie en magsmisbruik. Minderhede voel egter dikwels dat hul spesiale regte nie gehandhaaf word nie.
- Ons bly ‘n lewendige en ware veelparty-demokrasie, maar soms sukkel om oopheid, responsiwiteit en aanspreeklikheid te verseker.
So, dit is ‘n gemengde pakkie. Ons het ‘n lang pad gekom sedert 1994 – maar ons het steeds ‘n baie lang pad om te stap ten einde ons grondwetlike visie te verwesenlik.
25 jaar gelede het niemand gedink dat die toekoms maklik sou wees nie. Vrede vereis ‘n nimmereindigende stryd. Ons het die raamwerk vir vrede, waarna ek verwys het, in ons Grondwet. Ons moet weer die gemoedstemming vind wat ons in staat sal stel om ‘n ooreenkoms te bereik na soveel jaar van verdeeldheid en bitterheid.
Ten spyte van al hierdie dinge – ten spyte van al die uitdagings wat ons die hoof moet bied; ten spyte van al ons teleurstellings en mislukkings – ten spyte van die feit dat ons ver van die visie is wat ons vir ons in ons grondwet gestel het, is Suid-Afrika tog ‘n baie beter plek as wat dit was voordat ons op hierdie groot reis begin het. En dit is ‘n oneindige beter plek as wat dit sou gewees het as ons nie daarin geslaag het om ons verskille vreedsaam deur middel van onderhandelinge op te los nie.
Wat ons bereik het was, in die wêrelde van NP van Wyk Louw, ‘n daad wat “wat opklink oor die aarde en die jare in hul onmag terge”.
Die daad is steeds ‘n bron van hoop vir alle Suid-Afrikaners en het steeds die vermoë om die geweldige potensiaal van ons land te ontsluit. Om hierdie potensiaal te bereik, moet ons egter weer die gemoedstemming kry wat ons historiese ooreenkoms moontlik gemaak het – en ons moet ons almal weer verbind tot die bereiking van die visie wat in die waardes vervat is waarop ons Grondwet en ons nuwe samelewing gegrond is.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
10 Desember 2018