Ek het Nelson Mandela die eerste keer op 13 Desember 1989 ontmoet, ’n paar maande nadat ek President geword het. Ons het nie enige substantiewe kwessies bespreek nie en het die meeste van die tyd gebruik om mekaar op te som. Ons het albei tot die gevolgtrekking gekom dat ons met mekaar sal kan besigheid doen.
Tydens my tweede ontmoeting met hom, op 9 Februarie 1990, het ons sy naderende vrylating bespreek, wat vir 11 Februarie geskeduleer was. Hy was aanvanklik verbaas en het daarop aangedring dat die vrylating uitgestel moet word om die ANC kans te gee om die nodige reëlings te tref. Ek het gesê dat dit nie moontlik sou wees nie, maar, in die gees van kompromie, ingestem dat hy die plek kon kies waar hy vrygelaat sou word. Hy het Kaapstad gekies.
In die jare wat daarop gevolg het was dit vir my ‘n eer om saam met mnr Mandela te kon werk aan die proses wat gelei het tot die aanvaarding van die tussentydse Grondwet en ons eerste demokratiese verkiesings in April 1994. Alhoewel ons politieke teenstanders was - en alhoewel ons verhouding dikwels stormagtig was - was ons altyd in staat om bymekaar te kom op kritieke oomblikke om baie van die probleme op te los wat tydens die onderhandelingsproses na vore gekom het.
Een só ‘n oomblik was die sluipmoord op Chris Hani op 10 April 1993 toe Nelson Mandela daarin geslaag het om sy sterk morele gesag te gebruik om ‘n beroep om kalmte te doen en te verseker dat die onderhandelinge nie ontspoor nie. In die konsessietoespraak wat ek gemaak het na die ANC se oorwinning in ons eerste nie- rassige verkiesing op 27 April 1994, het ek mnr Mandela geluk gewens met die rol wat hy gedurende die onderhandelinge gespeel het:
“Mnr Mandela sal binnekort die hoogste bewind in die land aanvaar met al die reuse verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan. Hy sal hierdie groot verantwoordelikheid op ‘n gebalanseerde manier moet uitoefen wat Suid-Afrikaners uit al ons gemeenskappe sal oortuig dat hy hul beste belange op die hart dra. Ek is daarvan oortuig dat dít sy voorneme is. Mnr Mandela het ‘n lang pad gestap, en nou staan hy bo-op die heuwel. ‘n Reisiger sal sit en die uitsig bewonder. Maar die man van bestemming weet dat nóg ‘n heuwel en nóg ‘n heuwel agter die heuwel lê. Die reis kom nooit tot ‘n einde nie. Terwyl hy die volgende heuwel betrag, hou ek my hand uit na mnr Mandela - in vriendskap en in samewerking.”
Gedurende sy presidentskap het mnr Mandela inderdaad sy groot verantwoordelikheid gebruik om Suid-Afrikaners uit alle gemeenskappe te oortuig dat hy hul almal se belange op die hart dra. Hy het ‘n unieke bydra gemaak nie net tot die stigting van ons grondwetlike demokrasie nie, maar ook tot die stryd om nasionale versoening en nasiebou.
Selfs tydens sy welverdiende aftrede het hy voortgegaan om ‘n stryder vir versoening en maatskaplike geregtigheid te wees - nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. In latere jare, toe ons albei uitgetree het uit die harla boerla van die politieke lewe, het my vrou Elita en ek goeie vriende geword met Nelson Mandela en sy vrou Graça Machel.
Nelson Mandela se moed, sjarme en toewyding aan versoening en die Grondwet was nie net ‘n inspirasie vir Suid-Afrikaners nie, maar ook vir die hele wêreld. Ek glo dat sy voorbeeld sal voortleef en dat dit steeds alle Suid-Afrikaners sal inspireer om sy visie van nie-rassisme, geregtigheid, menswaardigheid en gelykheid vir almal na te streef. Tata, ons sal jou mis - maar ons weet dat jou gees en voorbeeld altyd daar sal wees om ons te lei na die visie van ‘n beter lewe en ‘n regverdiger Suid-Afrika.
Verklaring uitgereik deur die FW de Klerk Stigting