Nelson Mandela se lang reis van die landelike Transkei tot die Presidentskap van Suid-Afrika simboliseer die stryd om vryheid en om nie-rassige grondwetlike demokrasie vir die meerderheid van ons bevolking.

Deur sy merkwaardige sjarme en grootmoedigheid was hy in staat om sy mede-leiers in die ANC en die meeste van sy voormalige teenstanders en kritici te oortuig om by hom aan te sluit op ’n vreedsame tog na ’n nie-rassige en demokratiese samelewing. Sodoende het hy ’n belangrike rol gespeel om die grondslag te lê vir nasionale versoening en vir die opkoms van ’n nuwe diverse en dinamiese nasie.

Alhoewel Nelson Mandela nie meer fisies by ons is nie, lei sy nalatenskap ons steeds op ons pad na die derde dekade van ons nuwe samelewing.

Ek het geen twyfel dat hy sou bly wees oor die vordering wat ons land gemaak het – en steeds maak – op so baie gebiede van ons nasionale doelwitte nie.

Dit sou egter nie onredelik wees om te dink dat Nelson Mandela hartseer, teleurgesteld en gefrustreerd sou wees oor ons versuim – op so baie ander gebiede – om die visie van menswaardigheid, gelykheid en menseregte te verwesenlik wat in ons Grondwet verwoord word.

Hy sou veral hartseer wees oor die toenemende voorkoms van rassisme – en oor die her-rassifisering van die staat – waardeur so baie van die uitstekende werk wat hy gedoen het om nasionale versoening te bevorder, ongedaan gemaak word. Hy sou ook gefrustreerd wees oor ons versuim om ’n meer gelyke samelewing te bevorder en “om die lewensgehalte van alle burgers te verbeter en die potensiaal van elke persoon te ontsluit” – veral deur die daarstelling van uitstekende onderwys en werksgeleenthede. Die voormalige president sou seker ook diep teleurgesteld gewees het oor die selfsugtigheid, verwaandheid en korrupsie wat té dikwels die optrede van so baie van ons leiers in die private en openbare sektore kenmerk.

Miskien is die les van Nelson Mandela se lewe egter die krag en lewenskragtigheid wat hy altyd getoon het in sy vasberadenheid om onreg te bekamp en om te volhard op die lang en dikwels moeilike reis na ’n beter en meer regverdige samelewing.

Op die eerste herdenking van sy dood behoort dié van ons wat agterbly ons weer te verbind tot die bereiking van sy visie van nasionale versoening, menswaardigheid, gelykheid en geregtigheid.

Deur FW de Klerk


Leave a Reply

Your email address will not be published.