Dit is duidelik moontlik om dit te doen by ‘n universiteit wat tradisioneel Afrikaanse onderrig bied in ‘n provinsie waar Afrikaans die mees gesproke taal is.
Afrikaanssprekendes – veral in die Wes-Kaap – sal alle reg hê om die regering en die betrokke instellings verantwoordelik te hou indien hulle versuim om uitvoering te gee aan hul regte kragtens artikel 29(2).
Dit is net so belangrik om die behoefte aan die herstel van die rasgebaseerde diskriminasie en praktyke in die verlede in ag te neem. In hierdie verband is dit noodsaaklik dat die tersiêre onderwysstelsel die behoeftes van bruin Suid-Afrikaners, wat die laagste syfers van universiteitsdeelname van enige gemeenskap in Suid-Afrika het, aan te pak. Die behoeftes van benadeelde swart en bruin Engelssprekende studente in die Wes-Kaap word voldoende aangespreek deur die drie ander universiteite in die provinsie wat onderrig slegs in Engels aanbied – maar daar word geen voorsineing gemaak vir benadeelde bruin Afrikaanssprekendes nie – veral diegene uit die landelike gebiede van die Wes-Kaap.
Ironies genoeg word Engels nie hoofsaaklik gebruik om die behoeftes van benadeelde swart en bruin Engelssprekende leerders die hoof te bied nie – maar dié van die relatief bevoordeelde wit Engelssprekendes wat na Stellenbosch kom uit ander dele van Suid-Afrika.
Die Stigting verwerp die idee dat Afrikaans, die grootste taal in die Wes-Kaap, geag kan word as ‘n taal van uitsluiting – en verwerp ook die ongrondwetlike idee dat Engels op een of ander manier die enigste nie-amptelike nasionale taal geword het – en die taal van insluiting. Duidelik kan dit vir baie Afrikaanssprekende universiteitskandidate en kandidate wat ander inheemse tale praat, ‘n taal van uitsluiting wees.
Die Stigting verwerp onomwonde die idee wat teenwoordig is in baie aspekte van die debat wat tans gevoer word dat Afrikaans op een of ander manier besmet is deur die verlede en dat sy sprekers en hul kulture en tradisies ‘n minderwaardige morele posisie beklee. Sodanige idees dreig om die grondliggende reg van Afrikaanssprekendes op menswaardigheid te ondermyn – die waarde waaruit al die ander grondwetlike waardes vloei.
In hierdie verband moet die Raad ook die belangrike vereiste in artikel 9(4) van die Grondwet in gedagte hou dat “geen persoon op onregverdige wyse direk of indirek teen enige iemand mag diskrimineer” inter alia op grond van taal of ras nie.
Daarbenewens moet die Raad gelei word deur die heeltemal praktiese oorweging van of dit ‘n groot deel van sy ondersteuningsbasis wil vervreem of nie – en moontlik die oorweldigende basis vir finansiering en skenkings.
Die kwessie ter sprake is of Suid-Afrika sal ontwikkel as veeltalige en multikulturele samelewing met linguisties en kultureel diverse instellings – soos vereis deur die Grondwet – en of die internasionale taal Engels – en Afrika-hegemonie – op almal afgedwing sal word in ooreenstemming met die regerende alliansie se ideologie betreffende demografiese verteenwoordiging. Van een ding kan ons seker wees: indien Afrikaans nie as onderrigtaal op universiteitsvlak oorleef nie, is dit moeilik om te sien hoe enige van ons ander inheemse tale sal oorleef.
Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting
Foto: keso / Foter.com / CC BY-NC-ND