+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

 

Die AB se voorganger het ‘n belangrike rol gespeel in die geskiedenis van ons mense gedurende die twintigste eeu – eerstens wat die herlewing van Afrikaner-nasionalisme ná die Eerste Wêreldoorlog betref en toe in die politiek van die Afrikaners in die ontstuimige jare wat daarop gevolg het.

Die AB het ‘n leidende rol gespeel as intellektuele klankbord in die daarstelling van aparte ontwikkeling. Toe dit duidelik geword het dat aparte ontwikkeling nie ’n regverdige oplossing vir ons ingewikkelde probleme sou kon bied nie, het die AB – onder leiding van veral prof De Lange – gehelp om die weg te baan vir ’n onderhandelde oplossing – ‘n oplossing wat die regte en vryhede van alle Suid-Afrikaners kan beskerm.

Dit is nou 21 jaar sedert die aanvang van ons nuwe grondwetlike demokrasie. Gedurende hierdie tydperk het ons grondwet ’n raamwerk daargestel vir relatiewe vrede en vooruitgang. Ons is weer eens ‘n volwaardige lid van die internasionale gemeenskap; ons kan ons mede-Suid-Afrikaners as gelykes in die oë kyk; ons ekonomie is drie keer groter as wat dit in 1994 was; en die meeste wit mense het voorspoed beleef – meer so as enige van ons ander gemeenskappe.

Daar is baie kritici van die besluite wat ons aan die begin van die 1990s geneem het.  Sommiges sê ons moes vasklou aan die ou bedeling. Ander beweer ons kon ’n beter ooreenkoms onderhandel. Sommige dink ons kon een of ander vetoreg vir minderhede beding het.

Laat ek dit duidelik stel:  indien ons nie so gou as moontlik – na die ineenstorting van die Sowjet-Unie – ‘n skikking bereik het nie, sou die balans van magte onverbiddelik – en baie vinnig – teen ons gedraai het. Met elke jaar wat ons langer sou wag sou ons vermoë om ons kern belange te verseker, verswak- presies wat met Ian Smith in Rhodesië gebeur het.

Om aan die mag van destyds vas te klou was eenvoudig net nie ’n opsie nie. Ons sou waarskynlik kon voortgaan om Suid-Afrika vir nog 15 tot 20 jaar onder toenemend moeilike omstandighede te regeer. Ons sou heeltemal geïsoleerd geraak het. Ons ekonomie sou verlam word.  ‘n Hoë persentasie van die wit bevolking sou geëmmigreer het. Ons jong mans sou die helfte van elke jaar op die grense moes veg of oproerigheid in townships moes onderdruk. Inter-rassige vyandigheid sou toegeneem het tot ‘n vlak wat ’n wedersyds aanvaarbare, onderhandelde oplossing minder en minder moontlik sou maak met elke jaar wat verby gaan.

Ander wou gehad het dat ons ‘n wit tuisland êrens in die land moes vestig. Daar is en was egter geen plek in Suid-Afrika waar wit mense naastenby ‘n meerderheid uitmaak nie. Daar was nie ‘n kans dat wit mense hul gemaklike lewens in ons stede sou prysgee en na verafgeleë gebiede sou trek om ‘n nuwe staat te stig nie.

Diegene wat dink dat ons ‘n vetoreg vir minderhede kon beding, verkeer onder ‘n totale wanindruk. Sodanige uitkoms sou heeltemal onaanvaarbaar gewees het vir die grootste meerderheid van Suid-Afrikaanse burgers – en die internasionale gemeenskap sou dit ook nooit aanvaar nie.

Soos dit staan het ons ‘n Grondwet onderhandel waarin alle partye pynlike kompromieë moes aangaan.


Leave a Reply

Your email address will not be published.