Die Woordfees – saam met feeste soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en ander – lewer bewys van die lewenskragtigheid van Afrikaans as die taal waarin sewe miljoen Suid-Afrikaners van alle rasse dink, praat, skep en droom. Vir ons is ons taal een van ons kosbaarste erfenisse:  dit is diep verweef met ons identiteit, ons menswaardigheid en ons lidmaatskap van die breër mosaïek van kulture van Suid-Afrika.

Dit is ook die taal waarin ons redeneer, debatteer en onderhandel – en dit is hierdie kenmerk van Afrikaans wat ek graag vandag wil vier.

Een van die belangrikste faktore wat ons van alle ander spesies onderskei is die feit dat ons ingewikkelde idees met mekaar kan uitruil. Ander lewende wesens kommunikeer wel – maar slegs op ‘n baie eenvoudige wyse. Die mees intelligente spesies kan miskien ‘n maksimum van ‘n honderd idees kommunikeer.

Hulle het nie die vermoë om te onderhandel nie. Indien ‘n rooibok ‘n leeu teëkom, is daar selde ruimte vir bespreking – dit is vlug of dit is die dood. Wanneer twee elandbulle met mekaar meeding om die toegeneentheid van ‘n groep elandkoeie te verkry, stop hulle nie om eers met mekaar te redeneer nie: hulle kom nie tot ‘n vergelyking met mekaar en besluit dat elkeen drie koeie kan kry nie. Dit is alles of niks.

Die ontwikkeling van taal onder ons homo sapiens-voorouers het verskillende nuwe moontlikhede vir naasbestaan moontlik gemaak. Dit het beslis nie gelei tot die einde van fisiese konflik nie – maar dit het die vooruitsig vir ‘n middeweg en samewerking moontlik gemaak.

En so was dit ook gewees vir die grootste deel van die mens se geskiedenis: daar was diegene wat konflik, mededinging en oorlog verkies het; en daar was diegene wat onderhandeling, naasbestaan en vrede gekies het. Soos dit in die boek Prediker gestel word, is daar ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou; ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek; ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat; ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede.

Ná twee verwoestende wêreldoorloë gedurende die vorige eeu het die pendulum uiteindelik begin swaai na opbou en praat, en weg van haat en oorlog.


Leave a Reply

Your email address will not be published.