Ek neem as uitgangspunt dat Afrikaans as taal onder druk is en wat sy hoër funksies betref by ‘n duidelike kruispad is. Hennie van Coller maak die opmerking, “Sonder sy hoër funksies (soos die gebruik van die taal in die regswese, politiek, media en onderwys) is ’n taal geen volwaardige standaardtaal nie.” Van hierdie vier kategorieë is dit net in die media dat Afrikaans nie onder druk is nie. Ek sal in my voordrag grootliks op Afrikaans in die onderwys fokus, omdat dit, saam met die ouerhuis, die lewensaar van ‘n taal is…

Hoekom is Afrikaans by die kruispad?

Om die vraag ‘waarheen nou?’ te beantwoord, moet die redes hoekom Afrikaans op hierdie stadium by ‘n kruispad is, eers aangetoon word. Slegs dan sal toekomsmoontlikhede duidelik kan word. Daar is nie net een rede vir hierdie toedrag van sake nie. Soos gewoonlik, is die werkli’

kheid meer kompleks as die teorie.Soos in 1976 is Afrikaans grootliks vir politieke redes in die spervuur, en gaan die groot herrie nie eintlik oor Afrikaans nie…

Die eerste oorsaak is die ontgogelde verwagtinge van die meerderheid Suid-Afrikaners, as gevolg van die mislukking van die regerende party se beleide en toepassing daarvan, veral die afgelope sewe jaar. Die duidelikste hiervan is die onvermoë van die ekonomie om werk te skep, die groot ongelykhede in die samelewing en die verskriklike armoede in die land. Daarby het die regering met sy potensieel sterkste bemagtigingswapen, naamlik onderwys, klaaglik misluk.

Die kritiek teen die regering (wat gereeld in diensleweringsbetogings tot uiting kom) het die politici genoop om die ou vyand, apartheid, en die vorige magshebbers (lees wit en soms bruin mense) die skuld te gee. Die EFF is meer radikaal en het met ‘n  vlaag anti-wit en rassistiese standpunte na vore gekom. Wit en bruin mense is inherent rassisties, en daarom is Afrikaans ook rassisties.

In ‘n verdere reaksie en die soek na sondebokke vir hulle frustrasies, het dele van die bevolking tweedens begin om die historiese kompromie wat tydens die onderhandelings in 1993 bereik is en in die Grondwet ingeskryf is, te bevraagteken. ‘n Nuwe swart bewussynsbeweging sê openlik dat hulle ouers om die bos gelei is met ‘n ‘maklike’ versoening en dat daar van voor af begin moet word met ‘n waarheid- en versoeningsproses. ‘n Deel van hierdie proses moet regstelling van materiële goed wees – grond en huise en geld… ‘n Ander deel van die regstelling is nie-materieel, soos taal en kultuur. Afrikaans moet dus as openbare taal afgeskaf word…

‘n Derde rede hoekom Afrikaans by ‘n kruispad is, is die ANC-regering se ideologie van transformasie met sy formule van 80-9-9-2. Hiervolgens moet alle organisasies in die land en alle onderdele van daardie organisasies 80% werknemers of lede het wat Afrikane (swart) is, en net 9% bruin, 9% wit en 2% Indiër. En dit word, deur regstellende aksie en gelyke indiensnemingskwotas, meedoënloos toegepas, selfs al beteken dit dat mense sonder die nodige bevoegdhede aangestel word of dat poste vakant gelaat word. Volgens ‘n 2014 verslag van die Staasdienskommissie self, is dit die grootste oorsake van swak dienslewering deur die staatsdiens. Maar dit het ook sy negatiewe gevolge op Afrikaanse skole en universiteite waar Afrikaans nog gebruik word – druk om te ‘transformeer’ beteken wesenlik dat daar nóg minder wit en bruin leerlinge of studente in enige onderwysinstelling moet wees – en dus minder Afrikaanssprekendes. Maar weer is die teiken ras, en Afrikaans is die bykomende ongeval.

Ander eksterne faktore wat ‘n rol speel om Afrikaans onder druk te plaas, is wat Koos Malan ‘verstaatliking’ noem (waar die staat in sy hele gebied net een taal wil hê), die sterk posisie van Engels as ‘n wêreldtaal en akademiese taal, en die ironiese patroon in die res van Afrika dat die voormalige koloniale heersers se taal hoër as die inheemse tale geag word (Khethiwe Marais)…

Leave a Reply

Your email address will not be published.