Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
TAALREGTE IN SUID-AFRIKA
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck en Lusanda Mahkuntsu namens die FW de Klerk Stigting op 11/10/2025
*Hierdie meningstuk is eerste op Netwerk24 gepubliseer.
Inleiding
Taal is nie net ’n middel van kommunikasie nie. Dit is verweef met ons identiteit, ons menswaardigheid, ons kultuur en ons gevoel van behoort. Ons Grondwet erken dit deur sterk beskerming vir taalregte te bied, maar die FW de Klerk Stigting se Kulturele, Godsdienstige en Taalregte Verslagkaart, 2025 toon dat taal steeds die swakste areas is wanneer dit by die beskerming van regte kom.
Die Grondwet beskerm ons taalregte in drie belangrike artikels:
- Artikel 6 erken die amptelike tale en vereis dat die staat dié tale billik behandel en praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van inheemse tale te verhoog en hul gebruik te bevorder. Dit verplig ook die regering om meer as een amptelike taal te gebruik wanneer daar met die publiek gekommunikeer word.
- Artikel 29(2) gaan verder deur aan elkeen die reg te waarborg om onderwys in die amptelike taal van hul keuse te ontvang waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is.
- Artikel 30 verskans elkeen se reg om die taal van hul keuse te gebruik.
Hierdie bepalings is ontwerp om te verseker dat taalregte nié net simbolies is nie, maar werklik en afdwingbaar. Tog wys die 2025-verslagkaart dat die gaping tussen belofte en praktyk steeds groot is.
Waar die Gapings Bly
Die verslagkaart gee taalregte van die laagste punte. Erkenning bestaan op papier, maar in die praktyk bly Engels die dominante taal in openbare lewe. Dit is die taal van regering, howe, besigheid en hoër onderwys. Vir miljoene Suid-Afrikaners is dit ’n struikelblok wat keer dat hulle ten volle kan deelneem. Dit ondermyn ook die Grondwet se doel dat elke amptelike taal gelyke aansien moet geniet en die opdrag dat amptelike tale billik behandel moet word, iets wat nie identiese uitkomste vereis nie.
Nakoming van veeltalige verpligtinge is ook swak. Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, 2012 vereis dat die regering (alle nasionale departemente, nasionale openbare entiteite en nasionale openbare ondernemings) in minstens drie amptelike tale kommunikeer, maar die implementering is gemiddeld slegs 40,24%. Dit wys dat burgers verwag word om by die staat aan te pas, eerder as dat die staat by sy burgers aanpas.
Onderwys voeg nog ’n laag van uitdaging by: Al waarborg artikel 29(2) die reg om in jou gekose taal onderrig te word waar redelikerwys uitvoerbaar, word hierdie reg nie ten volle verwesenlik nie. Navorsing bevestig dat kinders die beste in hul moedertaal leer, maar baie skole skakel steeds vroeg oor na Engels, wat begrip en leeruitkomste benadeel. Die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, 2024, wat provinsiale hoofde toelaat om skoolbeheerliggame se taalbeleid te oorheers, wek vrese dat onderrig in inheemse tale verder verminder kan word.
Geregtigheid is nog ’n swak punt. Howe bly oorheers deur Engels te wees, wat verrigtinge minder toeganklik maak. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het beëdigde verklarings in ander tale as Engels geweier, terwyl die Regspraktykraadsraad Afrikaans uit die prokureurs-toelatingseksamen verwyder het, wat besware van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (alombekend as “PanSALB”) ontlok het. Hierdie voorbeelde wys hoe mislukkings in taalregte direkte gevolge het vir toegang tot geregtigheid.
Bedreigde tale soos Khoi, Nama en San bly ernstig in gevaar. Gebruik tussen geslagte is swak en bewaringsprogramme is skaars. Sonder dringende ondersteuning kan hierdie tale binne ’n generasie verdwyn.
Tekens van Hoop
Dit sou egter verkeerd wees om te sê daar is geen vordering nie. Bemoedigende inisiatiewe kom regoor die land na vore. Die bekendstelling van IRIS, ’n Kunsmatige Intelligensie-aangedrewe onderwysrobot, wys hoe tegnologie meertalige onderwys kan bevorder deur lesse in ál die amptelike tale te lewer.
Universiteite begin hul verantwoordelikhede ernstiger opneem. Walter Sisulu Universiteit bevorder isiXhosa en Sesotho in akademiese navorsing, terwyl die Universiteit van Kaapstad ’n beleid aanvaar het wat Afrikaaps, Khoekhoegowab en N|uu insluit, saam met isiXhosa, Engels en Afrikaans. UNISA het veeltalige hulpbronne en stylgidse ingestel.
Op plaaslike regeringsvlak wys die Stad Kaapstad se meertalige geselsrobot hoe innovasie werklike verbeterings in daaglikse dienslewering kan bring.
Hierdie inisiatiewe toon dat betekenisvolle vordering moontlik is wanneer daar toewyding, hulpbronne en kreatiwiteit is.
Hoekom Dit Sake Maak
Taal is ook verweef met geskiedenis en politiek, wat dit moeilik kan maak om te navigeer. Wat dikwels oor die hoof gesien word (en wat die FW de Klerk Stigting meen ’n fokus behoort te wees) is dat elke taal toegang tot ekonomiese geleenthede dra.
Tale is nié net kulturele skatte nie – dit is ekonomiese bates wat omvattende waardekettings beslaan wat werkskepping te weeg bring. Dink byvoorbeeld aan die omvattende waardeketting wat ’n koerant of TV-nuusprogram in ’n bepaalde taal skep – daar is joernaliste, redakteurs, vervaardigers, adverteerders (wat daardie mark wil bereik), nuusaanbieders, ens. As ons tale verwaarloos, loop ons die gevaar om groot markte – en daarmee saam geleenthede vir groei en innovasie – mis te loop. Deur in meertalige dienste, onderwys en tegnologie te belê, kan Suid-Afrika beduidende geleenthede ontsluit terwyl gelykheid en insluiting bevorder word.
Die 2025-verslagkaart maak dit duidelik dat dringende stappe nodig is. PanSALB benodig meer hulpbronne en sterker afdwingingsbevoegdhede om te verseker dat die regering sy verpligtinge nakom. Regeringsdepartemente moet aanspreeklik gehou word vir die gebruik van verskeie amptelike tale. En die privaatsektor en media moet aangemoedig word om veeltaligheid te omhels. Taal is meer as woorde: Dit is die brug wat leerders aan kennis verbind, burgers aan die regering en gemeenskappe aan ekonomiese geleenthede.
Slot
As die Grondwet ernstig opgeneem moet word, kan taalregte nie as ’n nagedagte behandel word nie. Dit is fundamenteel tot die bou van ’n inklusiewe en voorspoedige Suid-Afrika. Daar is vordering, maar die grondwetlike belofte dat ons “verenig in ons verskeidenheid” sal wees, bly leeg as Engels voortgaan om te oorheers terwyl ander amptelike tale gemarginaliseer word. Vir meer inligting oor die stand van hierdie belangrike regte, sien die FW de Klerk Stigting se Kulturele, Godsdienstige en Taalregte Verslagkaart, 2025.