+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

STIGTING NEEM KENNIS VAN PRESIDENT SE ERKENNINGS IN ONTEIENINGSWET-SAAK – WAARSKU OOR DIEPER GRONDWETLIKE PROBLEME

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 20/10/2025

 

Die FW de Klerk Stigting neem met ernstige kommer kennis van die onlangse erkenning deur President Cyril Ramaphosa dat die Wet op Onteiening, 2024, ongrondwetlike bepalings bevat. Hierdie erkenning bevestig wat die Stigting deurgaans gewaarsku het: die Wet is ongrondwetlik.

Alhoewel die President se erkenning betrekking het op gedeeltes van die Wet wat toelaat dat onteiening plaasvind vóórdat die grondeienaar die saak in die hof kan betwis, is dit nie die enigste ongrondwetlike bepalings nie,” sê  Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program.

Van besondere kommer is die bepalings wat toelaat dat grond vir geen vergoeding onteien kan word, wat fundamenteel in stryd is met die Grondwet. Suid-Afrika se Grondwet is duidelik; dit vereis dat wanneer enige tipe eiendom onteien word, billike en regverdige vergoeding betaal moet word. Die Onteieningswet stel egter die moontlikheid van geen vergoeding in. Die Stigting se regsontleding toon dat geen vergoeding en billike en regverdige vergoeding nie dieselfde is nie,” verduidelik Ellerbeck.

Die Wet doen niks om die werklike struikelblokke vir grondhervorming aan te spreek nie. Dít is korrupsie, gebrek aan politieke wil en administratiewe onbevoegdheid,” sê Christo van der Rheede die Stigting se uitvoerende direkteur. “Die Stigting glo dat om mense eienaarskap te gee, deur hulle titelaktes te gee, ekonomiese potensiaal sal ontsluit, menswaardigheid sal herstel en werklike geleenthede vir welvaartskepping sal skep – sonder om grondwetlike regte of die oppergesag van die reg te ondermyn. Suid-Afrika moet eiendomsreg eerder uitbrei as om dit te beperk en af te water.”

Die Wet word tans in die Hooggeregshof in Kaapstad betwis. Ooreenkomstig artikel 172(2)(a) van die Grondwet, indien die Hooggeregshof beveel dat die Wet ongrondwetlik is, moet die bevel deur die Konstitusionele Hof bekragtig word voordat dit van krag sal wees.

Ooreenkomstig artikel 31 van die Onteieningswet, 2024, is die Wet nog nie in werking nie. Die FW de Klerk Stigting bevestig dat daar op die datum van skrywe geen datum afgekondig is vir die Wet om in werking te tree nie.