+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Trouens, FW de Klerk het sy hele presidentskap toegewy tot die bedinging van ‘n inklusiewe, nie-rassige Grondwet. Om na hom te verwys as “die laaste apartheid president” is soos om na Abraham Lincoln te verwys as die “laaste president van slawerny” van die Verenigde State.

Die rol wat hy gespeel het om Suid-Afrika se oorgang na nie-rassige demokrasie van stapel te stuur en fasiliteer, is ‘n historiese feit – en is deur voormalige President Nelson Mandela self bevestig, wat die volgende opmerkings tydens FW de Klerk se 70ste verjaardag gemaak het:

“Ek het per geleentheid in die verlede gesê dat ons land nie genoeg erkenning gee aan die belangrike rol wat FW de Klerk gespeel het om ons te bring tot waar ons vandag is nie. 

Ek is bly om te sien dat dit verander het. Daar is byna onbetwiste erkenning en waardering vir die feit dat ons sonder die moedige vooruitsig van FW de Klerk, kon verval het in die vernietigende rasseherrie wat almal voorspel het … President Mbeki het in baie opsigte na jou verwys as een van die groot bydraers tot ons vreedsame oorgang en die bou van ‘n nuwe nasie. Regoor die wêreld erken mense jou as ‘n historiese vredemaker en nasiebouer. Wat meer kan ek byvoeg, behalwe om te herhaal wat ek so dikwels oor die afgelope sestien jaar gesê het? Jy het dapperheid getoon wat min ander in soortgelyke omstandighede gedoen het.”

Die beweringe dat De Klerk betrokke was in growwe skendings van menseregte het geen grondslag nie. Ten spyte van sy noukeurige ondersoek van al die bewyse, was die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) nie in staat om hom met sodanige optrede te verbind nie. Die WVK se benadering is akkuraat beskryf deur John Allen – wat nou met Aardsbiskop Tutu en die WVK-proses verbind is – in sy boek, Rabble Rouser. Hy het bevestig dat daar ‘n agenda in die WVK was om De Klerk te inkrimineer. Hy skryf oor die WVK se “frustrasie” dat dit nie daarin kon slaag om “die verantwoordelikheid vir skendings van menseregte” met De Klerk te verbind nie, en erken die “verleentheid van die swakheid” van die bevinding teen hom. Hy erken ook dat daar “geen bewyse na vore gekom het wat De Klerk met geweld verbind het nie.”

Waarom dan die aanvalle op De Klerk oor sy deelname met ‘n gees van welwillendheid aan ‘n nasionale inisiatief om die uitdagings wat Suid-Afrika die hoof moet bied, te bespreek?

Een moontlike rede is dat hy nie huiwer om homself uit te spreek teen skendings van die Grondwet deur enige iemand nie – met inbegrip van die regering van die dag.

‘n Tweede moontlikheid is dat dit onaanvaarbaar is, binne die konteks van die verdelende rasse-stereotipering wat toenemend bevorder word deur radikales en sommige elemente in die regering, dat enige iemand uit die verlede ter goeder trou sou opgetree het ten einde ‘n vreedsame en onderhandelde oplossing vir Suid-Afrika se probleme te vind.

Laastens is FW de Klerk – meer as enige iemand anders – ‘n herinnering dat ons nie-rassige demokrasie die gesamentlike skepping is van Suid-Afrikaners uit al ons gemeenskappe – met inbegrip van die 69% van wit Suid-Afrikaners wat hom in die referendum van Maart 1992 gesteun het. Vir baie radikales is dit onaanvaarbaar dat wit Suid-Afrikaners ‘n eerbare rol gespeel het in die stigting van ons nuwe samelewing.

Ironies genoeg word FW de Klerk aangeval met net soveel bitterheid deur sy regse kritici, wat hom daarvan beskuldig dat hy sy mense “uitverkoop” het. Hierdie kritici deel dikwels die mening van kritici aan die ander kant van die spektrum, dat ‘n verwoestende rassekonflik beter sou wees as die grondwetlike demokrasie wat De Klerk help verwesenlik het.

Die probleme wat Suid-Afrika in die gesig staar spruit nie uit enige tekortkominge in die Grondwet nie – maar eerder uit die versuim om sy grondliggende waardes na te kom. Die toenemende bedreiging vir rasseverhoudinge kom nie van die meerderheid Suid-Afrikaners uit al ons gemeenskappe nie – maar van bitter regs- en linksgesinde radikales. Om hierdie rede sal FW de Klerk – en die FW de Klerk Stigting – voortgaan om alles in hul vermoë te doen om die Grondwet, dialoog en versoening te steun:

FW de Klerk en sy Stigting sal spesifiek met elke geleentheid wat hulle kry die Nuwe Rassisme teenstaan wat openlik deur President Zuma, sommige elemente in die regering en deur radikale organisasies bevorder word, asook die verdelende en ongegronde rasse-stereotipes waarop dit gegrond is.

Dave Steward
VOORSITTER

Theuns Eloff
UITVOERENDE DIREKTEUR

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.